AfriForum Jeug laat Tukkies-jool weer vlot

Argieffoto van 'n joolvlot Foto: studentweekly.co.za

Argieffoto van ‘n joolvlot Foto: studentweekly.co.za

AfriForum Jeug se Tukkies-tak het ná talle klagtes van studente daarin geslaag om saam met die Verteenwoordigende Studenteraad (VSR) die Universiteit van Pretoria (UP) van hul idee te laat afsien om die jooloptog te kanselleer.

Die UP het in Desember verlede jaar voorlopig aangedui dat hulle die jaarlikse jool wil afskaal en dat hulle van plan was om die feestelike optog met vlotte nie meer soos oudergewoonte deur die strate toe te laat nie, maar wel by die L.C. de Villiers-sportgronde uit te stal.

“Ons het klagtes van studente opgevolg en probeer om agter die kap van die byl te kom waarom die Universiteit besluit het op die afskaffing van jool,” het Rochelle Oosthuyse, voorsitter van AfriForum Jeug Tukkies gesê. “Die Universiteit het ʼn gebrek aan fondse as rede gegee. Jool sou ʼn finansiële las wees eerder as fondsinsameling vir liefdadigheid. AfriForum Jeug is egter bewus van ʼn geldelike skenking wat spesifiek vir hierdie doel gemaak is.”

AfriForum Jeug het ʼn veldtog van stapel gestuur en ’n brief aan die Universiteit se rektor, prof. Cheryl de la Rey, gerig met besware teen die afskaffing van die optog. ʼn Vergadering is Donderdag tussen AfriForum Jeug, die UP se VSR, wat ook nie in die saak geken is nie, en die universiteitsbestuur gehou. Die uitslag is verblydend: Die jool sal voortgaan.

“Ons is bly dat die Universiteit besluit het om die studente te ken in besluite van hierdie omvang. Die koshuise se harde werk spesifiek vir die “Skou van vlotte” sal darem nou aan studente en die publiek vertoon kan word. Die jool is van groot waarde. Elke koshuis samel geld vir liefdadigheid in en dit bied studente die geleentheid om by liefdadigheidsorganisasies betrokke te raak. AfriForum Jeug Tukkies sal aanhou stry vir die behoud van gesonde studentetradisies,” het Oosthuyse bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.