AfriForum Jeug nooi matrikulante om uitstaande uitslae aan te meld

AfriForum Jeug het vandag matrikulante uitgenooi om hul inligting aan AfriForum Jeug deur te gee indien hulle nie vandag hul matriekuitslae ontvang het nie. AfriForum Jeug het die afgelope drie jaar groot sukses behaal deur direk met die departement van basiese onderwys te skakel om sodoende probleme rakende die uitslae kollektief uit te stryk.

In die verlede is klagtes geïdentifiseer wat verband hou met matrikulante wat onvolledige matriekuitslae ontvang het, of wat uitslae ontvang het wat nie hul ware prestasies weerspieël nie. Daar was ook vir die afgelope drie jaar klagtes van matrikulante wie se matrieksertifikate nie uitgereik is nie.

Die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, het gesê dat AfriForum Jeug gereed staan om matrikulante met enige klagtes by te staan en te verseker dat hul regte nie geskend word nie. “Enige wanadministrasie aan die departement se kant kan maklik daartoe lei dat leerlinge se beursaansoeke, tersiêre studies en werksgeleenthede gekelder word.”

Volgens Oberholzer moet matrieks, wat nie universiteitsvrystelling verwerf het nie, steeds poog om ’n tersiêre kwalifikasie te bekom. “’n Belegging in naskoolse studies is sekerlik die belegging met die beste opbrengs,” sê Oberholzer.

Matrikulante wat probleme met hul uitslae ervaar, kan hul inligting op www.afriforumjeug.co.za invul.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

jonel birch ·

Tuisleerders wat gedwing is om departementele eksamens te skryf se uitslae is totale chaos. Alle rapporte dui aan dat almal van hulle afwesig was vir alle vakke. Niemand is beskikbaar om ons te help by Impak, Sacai of Dept nie. Die mense by die dept wat wel die foon antwoord na ure se gesukkel verstaan glad nie en is arrogant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.