AfriForum Jeug steek ras weg by Parlement

kous sakkeAfriForum Jeug het vandag ʼn memorandum teen rasseklassifikasie by die Suid-Afrikaanse Parlement ingedien en protes teen sodanige klassifikasie aangeteken deur koussakke oor hulle koppe te trek. Vier baniere van vier universiteitskampusse wat deur studente onderteken is, is ook oorhandig.

“Ons wil uitbeeld dat ras nie geleenthede in Suid-Afrika behoort te bepaal nie. Regstellendeaksie-beleide beteken dat hul velkleur steeds studente se toekoms bepaal,” het die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, gesê.

“Dit is moeilik om Erfenisdag te vier terwyl die regering beleide gebruik wat juis nie wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe bevorder nie,” sê Oberholzer.

Die memorandum versoek dat studente die vrye keuse gegun moet word om nie hulle ras op toelatings- of beursvorms aan te dui nie. Die oorhandiging is deur ʼn afvaardiging van studenteleiers vanaf die Universiteit van Stellenbosch, Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Pretoria en die Noordwes-Universiteit gedoen.

AfriForum Jeug het tot dusver duisende handtekeninge ingevorder van studente wat teen rasseklassifikasie gekant is en het in ʼn afgelope blitsreferendum by die UP bevind dat 97.5% van studente rasseklassifikasie wil laat afskaf. Volgens Oberholzer is dit beduidende bewys dat beide wit en swart studente moeg is om op grond van hulle ras en nie meriete nie beoordeel te word.

Douglas Scholtz, verteenwoordiger van die sekretariaat van die Parlement het die memorandum ontvang en onderneem om die saak onder die aandag van die Speaker te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.