AfriForum Jeug verf hulself swart oor “rasseteikens”

Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug.

ʼn Afvaardiging van AfriForum Jeug het Maandag saam met studente hulself swart geverf voor die departement van hoër onderwys in protes teen beweerde rasseteikens by die fakulteit veeartsenykunde by die Universiteit van Pretoria.

AfriForum Jeug sê hy verteenwoordig tans sowat 30 matrikulante/voornemende studente wat gesamentlik 190 onderskeidings in matriek behaal het, wat glo deur die UP se fakulteit veeartsenykunde weggewys is weens “swak akademiese prestasie”. “AfriForum Jeug, studente en ouers het protes aangeteken teen die toelatingsvereistes vir veeartsenykunde in Suid-Afrika. Aangesien dit die enigste fakulteit van sy soort in Suid-Afrika is, rus ʼn unieke verantwoordelikheid op die departement om toppresterende leerlinge ʼn geleentheid te gun om die vaardigheidstekort ten opsigte van veeartsenykunde in die land te verlig,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. “Daar word selfs plekke gereserveer vir internasionale studente terwyl wit Suid-Afrikaners wat tussen sewe en nege onderskeidings behaal het, die deur gewys word,” het Oberholzer bygevoeg. Volgens Oberholzer het studente die reg om die loopbaan van hulle keuse te volg, en die doel van dié aksie is om hierdie reg op te eis. “Die rasseteikens wat aan die fakulteit gestel word, sluit talle wit studente uit en beperk hulle reg op ʼn keuse van ʼn loopbaan.”

AfriForum Jeug het ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting die UP gedwing om inligting bekend te maak oor waarom hierdie aansoekers nie toelating gekry het nie. Volgens die organisasie het die universiteit aangedui dat die departement van hoër onderwys rasseteikens stel en dat hulle daarvolgens geoormerkte finansiering ontvang. Die departement se oogmerk is dat die UP se fakulteit veeartsenykunde die nasionale demografie moet weerspiëel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.