AfriForum Jeug wen verkiesing by Tukkies

AfriForum Jeug het die studenteparlementsverkiesing by die Universiteit van Pretoria (UP) met ʼn rekordgetal stemme gewen nadat die uitslag Maandag na ʼn hofbevel bekendgemaak is.

Die uitslae is Maandag, meer as vyf maande na die verkiesing, bekendgemaak nadat die Noord-Gauteng hooggeregshof Vrydag ʼn hofbevel uitgereik het wat die UP se besluit om ʼn herverkiesing te hou, tersyde gestel het. AfriForum Jeug sê hy het boonop dubbel die aantal stemme as die ANC-geaffilieerde organisasie, Sasco, verwerf. AfriForum Jeug het meer as 42% van die totale getal van 7 148 stemme wat uitgebring is, gekry.

“AfriForum Jeug se steun het byna verdubbel en dié organisasie dien as voorbeeld van ʼn suksesvolle kweekskool van jong leierskap,” het Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, gesê. “AfriForum Jeug het nie net daarin geslaag om aan studente hulle stem terug te gee nie, maar het ook ʼn reuse-oorwinning vir Afrikaans, die handhawing van studente se regte en die beskerming van gesonde studentetradisies behaal.”

Ingevolge die hofbevel moet ʼn nuutverkose VSR voor 2 Maart 2012 gekonstitueer word. Dié konstituering sal deur middel van die eerste sitting van die studenteparlement plaasvind. Die parlement bestaan uit sowat 87 studente uit onder meer drie kiesafdelings, naamlik verenigings, koshuise en fakulteite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.