AfriForum kap ANC oor Grondwet-voorstelle

Die burgerregte organisasie AfriForum het in reaksie op mediaberigte dat die ANC drastiese veranderings aan die Grondwet oorweeg, gesê die ANC is ʼn oneerlike party wat met vuur speel.

AfriForum sê dat die ANC skynbaar bereid is om die ooreenkomste wat destyds tydens die grondwetlike onderhandelings aangegaan is, te verbreek sonder om ʼn oog te knip. City Press het Sondag berig dat die ANC drastiese veranderings aan die Grondwet oorweeg, soos om weg te doen met die “sonsondergang-klousules” en die magte van die Reserwebank en dié van provinsies te wysig. City Press is in besit van die konsepbeleidsdokumente wat glo Maandag aan die ANC se takke vir bespreking uitgereik sal word in aanloop tot die party se beleidskongres in Junie. Die sonsondergang-klousules hou grootliks verband met die eienaarskap van grond en private eiendom. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, lyk dit terugskouend of die ANC die toegewings wat die party tydens die grondwetlike onderhandelings gemaak het, bloot as tydelike toegewings beskou het wat gemaak moes word om die politieke mag te bekom. “Noudat die ANC beheer oor byna al die magshefbome en grondwetlike instellings geneem het, steur die party hom blykbaar nie meer aan die ooreenkomste nie. Die ANC het ander deelnemers aan die onderhandelingsproses ʼn rat voor die oë gedraai deur voor te gee dat hulle ʼn finale skikking tot voordeel van almal in die land wou bereik,” het Kriel bygevoeg. Kriel het gewaarsku dat die ANC met vuur speel deur onderhandelde skikkings te verbreek. “Die ANC se verbreking van onderhandelde skikkings sal die basis skep vir hernieude polarisasie in die land,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.