AfriForum kap ANC oor plaasmoorde by VN-konferensie

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in sy spreekbeurt by die Verenigde Nasies (VN) Menseregteraad se konferensie oor minderheidsaangeleenthede in Genève, Switserland, ʼn beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om die krisisafmetings wat plaasmoorde in Suid-Afrika aanneem, ten sterkste te veroordeel.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die geleentheid eksemplare van die Engelse weergawe van die boek Treurgrond, wat oor plaasaanvalle in Suid-Afrika handel, aan die sekretariaat van die VN se Menseregteraad en ander prominente internasionale rolspelers oorhandig.

AfriForum het afgevaardigdes ingelig dat plaasmoorde in Suid-Afrika krisisafmetings aanneem en dat die ANC nogtans voortgaan om die gebruik van die slagspreuk “skiet die Boer” te probeer verdedig. “Terwyl die ANC aanvoer die slagspreuk moet nie letterlik opgeneem word nie word boere, vroue en kinders letterlik op plase vermoor,” het Kriel gesê.

AfriForum se standpunt dat geweld teen minderhede ten sterkste veroordeel moet word, het groot steun van afgevaardigdes ontvang.

Volgens Kriel is dit tyd dat die regerende party in Suid-Afrika verantwoording aan die internasionale gemeenskap moet doen oor sy verdediging van haatspraak teenoor boere, terwyl tientalle boere jaarliks vermoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.