AfriForum kla polisiebeampte aan ná uitlatings op Facebook

Só lyk Dagane se Facebook-profiel

Die burgerregte groep AfriForum het ʼn klag van haatspraak ingedien teen ʼn polisiebeampte by die Menseregtekommissie na hy glo rassistiese uitlatings gemaak het op Facebook.

AfriForum sê in ʼn verklaring hy het Woensdag ʼn klag van haatspraak teen Juda Dagane ingedien
en ʼn beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gedoen dat Dagane uit sy pos onthef word. Dagane het glo onlangs op ʼn Facebook-blad ter ondersteuning van Julius Malema geskryf: “As die swart Messias (Nelson Mandela) doodgaan, sal ons die wittes ʼn les leer. Ons sal volksmoord teen hulle pleeg. Ek haat wittes.” Die uitlatings is sedertdien verwyder en die polisie het ʼn interne ondersoek begin na Dagane se uitlatings.

Die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, het die klag by die SAMRK ingedien. “Dagane se opmerkings is meer as net ’n growwe vorm van haatspraak. Dit is aanhitsing tot geweld en selfs tot moord,” het Roets gesê. “Geen persoon het die reg om sulke uitlatings te maak nie. Om dit egter uit die pen van ʼn ampsdraer van die SAPD te hoor, is uiters kommerwekkend. Ten einde sy reputasie te beskerm, sal die SAPD daadwerklike stappe teen Dagane moet neem,” sê Roets. AfriForum sê hy sal sal die SAPD se ondersoek teen Dagane monitor.

Die foto is glo geneem nadat Dagane rassistiese uitlatings gemaak het op 'n Facebook-blad vir die geskorste ANC-jeugligaleier, Julius Malema. Die vloekwoorde is uitgeblok

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.