AfriForum koop “moedertaalonderrig” vir alle Suid-Afrikaners

boeke-320x245Die burgerregte-organisasie AfriForum het die woord “moedertaalonderrig” eksklusief aangekoop as deel van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) se fondswerwingsprojek, “Borg ʼn Woord”. Die WAT – kroonjuweel van Afrikaanse woordeboeke – dokumenteer die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang en is die grootste projek ooit rondom Afrikaans. Fondse word benodig om hierdie groot taak voort te sit en AfriForum ondersteun dit graag op hierdie wyse.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, koop AfriForum “moedertaalonderrig” aan om alle Suid-Afrikaners bewus te maak van die voordele wat hierdie internasionaal erkende reg vir mense inhou. In lande waar moedertaalonderrig geredelik beskikbaar is, is daar oor die algemeen meer politieke stabiliteit, minder werkloosheid en hoër vlakke van geletterdheid. Leerders is meer geneig om hulle skoolloopbane en studies te voltooi wanneer hulle onderrig in hulle moedertaal ontvang. Hulle vaar beter in vakke soos wiskunde en wetenskap omdat hulle abstrakte konsepte assimileer in hulle moedertaal, en nie net memoriseer in ʼn tweede taal nie. AfriForum se ideaal is dat elke Suid-Afrikaner uiteindelik toegang tot hoëgehalteonderrig in sy of haar moedertaal moet kry.

Suid-Afrikaners is volgens Bailey nog veels te onbewus van hulle taalregte. Hulle besef nie dat die erkenning daarvan deel vorm van die erkenning van hulle menswaardigheid, soos gewaarborg in die Grondwet nie. “Taal is nie bloot net ʼn kommunikasiemedium nie – dit is ʼn onlosmaaklike deel van elke mens se identiteit. Ons moet die toepassing van moedertaalonderrig in Suid-Afrika aktief bevorder. Dit is ook noodsaaklik om projekte soos die WAT te ondersteun en ons moedertale so uit te bou,” het sy gesê.

* AfriForum borg die woord “moedertaalonderrig” met R5 000, maar enigeen kan ʼn woord vir so min as R100 borg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.