AfriForum lê klag teen Oudtshoorn munisipale bestuurder

afriforum-logo-31-320x311AfriForum het ’n klag van korrupsie, bedrog en finansiële wanbestuur by die SAPD se teenkorrupsie-eenheid, die Valke, ingedien teen die waarnemende munisipale bestuurder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, Ronnie Lottering, verskeie ander amptenare en lede van die publiek. Dít volg nadat lede van die publiek verskeie bewyse van beweerde ongerymdhede aan AfriForum voorgelê het. “Inwoners is keelvol vir die manier waarop die ANC-koalisie deur allerlei vertragingstegnieke probeer verhoed dat daar stabiliteit in die munisipale bestuur gevestig word, en die onstabiliteit gebruik om die staatskoffers te stroop,” het George Kersop, voorsitter van AfriForum se tak in Oudtshoorn, gesê.

Bewyse van verdagte betalings van meer as R5 miljoen is aan AfriForum oorhandig waarna ’n beëdigde verklaring op 1 Oktober aan die Valke in Kaapstad oorhandig is. Na wat verneem word, het verskeie amptenare glo geweier om oorbetalings te magtig aan maatskappye wat onder verdagte omstandighede kontrakte gekry het. Betalings is na bewering gemaak aan maatskappye sonder dat daar enige dienste gelewer is. Die mees onlangse betaling van R482 000 het plaasgevind op 25 September 2013.

“AfriForum doen ’n beroep op raadslede, munisipale werknemers en inwoners om inligting oor korrupsie, bedrog en wanbestuur beskikbaar te stel, want ons sal alles in ons vermoë om te verseker dat die skuldiges aan die pen ry en om verliese van die belastingbetalers van die bedrieërs te verhaal,” het Kersop gesê.

Die direkteur van finansies by nasionale tesourie is versoek om alle oorbetalings te staak en om ’n span ouditeure te stuur om ondersoek na die oorbetalings te doen. Anton Bredell, minister van plaaslikeregeringsake is ook ingelig oor die gebeure.

“Ons vertrou dat ons dieselfde suksesse sal behaal as wat ons in Cederberg behaal het. Inligting dui daarop dat persone wat by die ongerymdhede betrokke is in Cederberg en Stellenbosch ook by Oudtshoorn betrokke is en was,” het Pieter Rautenbach, hoof van plaaslikeregeringsake by AfriForum gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.