AfriForum maan SAPD om indiensnemingsbeleid te hersien

AfriForum is van mening dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) sy indiensnemings- en opleidingsbeleid indringend moet hersien. Dít nadat die minister van polisie, Nathi Mthethwa, in die parlement ʼn verduideliking gegee het oor die sowat R210 miljoen wat die afgelope finansiële jaar aan siviele eise uitbetaal is. Hierdie bedrag sluit 4166 uitbetalings aan siviele litigante in asook kompensasie vir gewelddadige mishandeling deur die polisie.

Volgens AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, Reg Crewe, het die SAPD sedert 1994 só gefokus op transformasie dat hy die noodsaaklike eienskappe van ʼn suksesvolle polisiebeampte uit die oog verloor het.

“Van die basiese beginsels het moontlik verlore geraak in die strewe om die polisie van ʼn mag na ‘n diens om te skakel. Een van die hoekstene van polisiewerk is dat dit ʼn roeping moet wees en nie net ʼn werk nie. En dit is ʼn roeping wat nie net enigeen kan vervul nie. Dit verg ʼn bepaalde soort karakter en persoonlikheid om polisiediens te kan verrig,” het Crewe gesê.

Volgens Crewe het Mthethwa self vantevore toegegee dat baie polisie-aansoekers as ʼn laaste uitweg by die polisie aansluit, terwyl slegs die beste aansoekers gekies behoort te word. “Om die waarheid te sê, personeel vir polisiedienste word in ander lande by universiteite en tersiêre instansies gewerf.”

Hy het gesê daarbenewens moet opleidingsprogramme in polisiekolleges fokus op burgerregte en spesifiek die Handves van Menseregte. “Karaktereienskappe soos integriteit en eerlikheid behoort ononderhandelbaar te wees. Polisiestudente wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, behoort onmiddellik uit die program verwyder te word. Indien hierdie kernwaardes behou word, sal die huidige patroon van brutaliteit en nalatigheid verbreek word. Dit het 20 jaar geneem om hierdie punt te bereik en dit gaan nog 20 neem om die probleme op te los. Ek raai die polisiebestuur dus aan om aan die werk te spring,” het Crewe bygevoeg.

Lees ook:
Onregmatige inhegtenisnemings kos belastingbetalers miljoene

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.