Die burgerregtegroep AfriForum mag Saterdag ʼn optog teen plaasmoorde in Pretoria hou.
AfriForum se versoek is Donderdag in die Noord-Gautengse hooggeregshof toegestaan. AfriForum moes hul na die hof wend nadat die Tshwane-metropolisie geweier het om die optog goed te keur. Die metropolisie het die optog aanvanklik goedgekeur, maar later laat blyk dat die topbestuur nie toestemming daarvoor wil verleen nie. AfriForum het gesê dié ommekeer van gesindheid is verrassend.
Verskeie bekendes soos Steve Hofmeyr het reeds aangedui dat hulle aan die optog gaan deelneem. Die verrigtinge begin 10:00 by Kerkplein in die Pretoriase middestad en sal so tot 12:00 duur. AfriForum versoek alle lede van die publiek wat aan die optog gaan deelneem om reeds teen 09:30 daar te wees. Die groep stap dan met foto’s vanaf Kerkplein tot by die minister van polisie, Nathi Mthethwa se kantoor, ongeveer twee blokke ver. ʼn Memorandum en omvattende verslag oor die plaasmoordkrisis sal aan die minister oorhandig word. Verskeie slagoffers van plaasaanvalle en naasbestaandes van vermoorde boere sal die geleentheid bywoon.
Die optog maak deel uit van AfriForum en Solidariteit se veldtog teen plaasaanvalle asook vir die bevordering van landelike veiligheid. “Ons het hierdie dag gekies omdat dit die dag is waarop Attie, Wilna en Willemientjie Potgieter op hulle plaas in Lindley vermoor is,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “AfriForum hou hierdie dag om die realiteit van plaasmoorde aan die groot klok te hang. Ons wil ʼn groot getal mense byeenkry om aan die owerhede en die media te wys hoeveel mense deur hierdie misdaad geraak word.”
Die dag word met die goedkeuring van hul familie aan die driejarige Willemien opgedra.