AfriForum meen staatsrede is gekenmerk deur ontkenning van brandpunte

Pres. Jacob Zuma voor hy die staadsrede vir 2014 gegee het. Foto: GCIS

Pres. Jacob Zuma voor hy die staadsrede vir 2014 gegee het. Foto: GCIS

“President Jacob Zuma se 2014-staatsrede is gekenmerk deur ʼn ontkenning van die vernaamste probleme wat Suid-Afrika tans in die gesig staar en bied daarom ook geen hoop op die vind van volhoubare oplossings daarvoor nie.”  Dit is die mening van die burgerregte-organisasie, AfriForum.

President Zuma het op 5 prioriteitsareas gefokus, naamlik gesondheid; onderwys; die bekamping van misdaad en korrupsie; landelike ontwikkeling en grondhervorming; asook werkskepping.  Hy het deurgaans herhaal dat Suid-Afrika vandag ʼn beter woonplek is as in 1994.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die toespraak die regerende party op die skouer geklop, maar geen sterk leierskap getoon of aanspreeklikheid aanvaar vir die land se brandpunte nie.

Wat misdaad betref, is dit verblydende nuus dat spesialis eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, asook howe vir seksuele misdryfsake heropen word.  Bailey wys egter daarop dat die bewering dat misdaadvlakke deurgaans afneem, onder meer weerspreek word deur Statistiek SA se navorsing wat pas vrygestel is en aandui dat misdaadstatistiek daal omdat min slagoffers misdade aanmeld.

Verder het die president beklemtoon hoe ʼn belangrike rol landbou in die ekonomie van Suid-Afrika en in voedselsekuriteit speel, maar geen melding gemaak van plaasaanvalle en -moorde wat die sektor teen ʼn onrusbarende spoed van kundigheid stroop nie.

Die mees verbasende bewering rakende die gewelddadige protesaksies wat Suid-Afrika tans kenmerk, is die president se uitspraak dat dit die gevolg van die sukses van die regering is – protesteerders sien sogenaamd basiese dienste wat uitgebrei word en kan dan nie wag dat hulle ook bevoordeel word nie.  Die tragedie is dat baie van die gemeenskappe wat gewelddadig protesteer, juis protesteer omdat dienste waartoe hulle tevore toegang gehad het, opgedroog het.  Die beplande ontplooiing van meer kundige personeel in plaaslike owerhede en die bekamping van korrupsie aldaar, is leë beloftes terwyl geen aanspreeklikheid vir die toestand waarin die owerhede verkeer, aanvaar word nie.

Wat onderwys betref, het die president soos verwag kon word, na die stygende matriekslaagsyfer verwys, maar die feit verswyg dat byna twee derdes van die skoliere wat in 2002 in graad 1 was, nie graad 12 in 2013 geslaag het nie.  Die harde realiteite oor die disfunksionaliteit van meer as 80% van Suid-Afrikaanse skole, onder meer geïllustreer deur die feit dat minder as 5% van graad 9-leerlinge by sewe skole wat by ’n studie oor verlede jaar se jaarlikse nasionale assessering (ANA) betrek is, deurgekom het, is volgens Bailey eenvoudig versuiker deur te sê dat die toetse probleme identifiseer.

ʼn Verdere voorbeeld van die ontkenning van probleme is dat die president met lof verwys het na die groter aantal universiteitsregistrasies en beurse, maar nie vermeld het dat ʼn groot aantal van die houers van staatsbeurse wat in 2013 hulle studies met sukses voltooi het, tans werkloos is omdat die staat te disfunksioneel is om aan hulle poste te bied nie.  “Dit is verblydend om te verneem dat onderwysersopleidingskolleges heropen gaan word, maar is dit sinvol as studente wat met groot persoonlike opoffering afstudeer, nie weet of hulle poste gaan kry nie?” het sy gevra.

Volgens Bailey meen AfriForum nie dat die staatsrede ʼn bousteen op die pad na die vind van volhoubare oplossings vir die land is nie.  “Dit was suiwer ʼn aanprysing van die regerende party op die vooraand van die verkiesing – ʼn belangrike kans vir die president om leierskap te toon wat weer eens verlore gegaan het.”

Lees ook:
Staatsrede: “Miljarde word spandeer terwyl Jan Alleman die rekening moet delg”
Staatsrede 2014: “Sukses is die teelaarde vir ʼn groter verwagting”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anton ·

Dit werk so: As jy die probleem erken moet jy mos reeds ‘n plan gemaak het om dit reg te sien indien nie hoef jy nie ‘n plan te maak of enige iets te doen nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.