AfriForum sal op 25 Oktober die Durban-hooggeregshof nader vir ʼn bevel om die eThekwini-munisipaliteit te dwing om redes te verskaf waarom hul versoek vir toegang tot die Manase en Ngubane forensiese verslae geweier is. In dié verslae word talle gevalle van korrupsie binne die munisipaliteit uitgewys.
“Munisipaliteite in Suid-Afrika is nie bekend daarvoor dat hulle ʼn kultuur van aanspreeklikheid vir oortredings bevorder nie. As ons hierdie verslae het, kan ons nagaan of die meer as 160 oortreders vir hulle aksies aanspreeklik gehou word en indien nie, kan ons aksie neem om dit reg te stel,” het Ivan Herselman, woordvoerder vir AfriForum in KwaZulu-Natal, gesê.
Sodra die verslae ontvang word, sal AfriForum die vordering van alle dissiplinêre verhore en ondersoeke dophou.