AfriForum: ‘Nog ʼn ANCYL-uitspraak, nog ʼn plaasmoord’

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn beroep op die ANC gedoen om dringend in te gryp om die rassistiese uitsprake in sy eie geledere te stop.

AfriForum het terselfdertyd ʼn verskerping van sy veldtog teen plaasmoorde aangekondig. Dit volg nadat die waarnemende jeugleier van die ANCYL, Ronald Lamola, gistermiddag in Durban gesê het dat “hulle” so gewelddadig soos in ʼn oorlog sal optree om plase by wit boere te vat. Johan en Gloudine van Rensburg is Dinsdagaand op hul plaas naby Baltimore in Limpopo aangeval. Johan is in sy bed doodgeskiet en Gloudine is in ʼn kritieke toestand in die hospitaal opgeneem. AfriForum sê Lamola het ook op 5 Junie by ʼn media konferensie in Centurion na die gewelddadige onteiening van grond verwys. Op dieselfde dag is ʼn 29-jarige vrou, Arina Muller op hul kleinhoewe net buite Centurion vermoor. Die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, het gesê dat AfriForum se jeug reeds strafregtelike klagte teen Lamola ingedien het en dat AfriForum sy veldtog teen plaasmoorde sal verskerp. “Lamola het bloed op sy hande. Solank as wat die ANC toekyk hoe boere vermoor word terwyl haatspraak in sy eie geledere hoogty vier, het die ANC ook bloed op sy hande,” het Roets gesê. Die ANCYL het ook onlangs verklaar dat “wit kapitaal” hul grootste vyand is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.