AfriForum ondersoek Limpopo-premier

Cassel Mathale

Vrae hang oor die kop van Limpopose premier, Cassel Mathale, en of die regte tender prosedures gevolg is met die toekenning van huurkontrakte van drie staatsinstellings.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag gesê hy het vergader met die departement van openbare werke oor Manaka Property Investments, ’n maatskappy waarvan Mathale en die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies, Thaba Mufamadi, direkteurs is.

Die vergadering het gekom nadat AfriForum inligting ontvang het dat Manaka Property Investments na bewering huurkontrakte van drie staatsinstellings in Pretoria ontvang het. Dié instellings is Statistieke Suid-Afrika, die departement van binnelandse sake en die departement van waterwese.

Volgens Tiaan Esterhuizen, AfriForum se organiseerder in Gauteng, wil AfriForum vasstel of die korrekte tenderprosedure vir die verhuring van die betrokke geboue gevolg is.

AfriForum het tydens die vergadering toegang tot die dokumente en verslae van die verskeie komitees wat die goedkeuring van die tenders behartig het, gevra. Die burgerregte-organisasie het die departement van openbare werke tot einde September gegee om die dokumente te oorhandig.

“Indien openbare werke nie aan die versoek gehoor gee nie, of as ons enige ongerymdhede in die verslae bespeur, sal ons regstappe oorweeg,” het Esterhuizen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.