AfriForum-ondersoek onthul ongerymdhede in Limpopo-tenderproses

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum en regs Nantes Kelder, hoof van die AfriForum-ondersoekeenheid.

Die burgerregte organisasie, AfriForum, se ondersoekeenheid het vandag onthul dat die departement van paaie en vervoer in Limpopo verlede jaar op 30 November amptelik versoek het dat ʼn werknemer van On-Point Engineers weens beweerde korrupsie moet onttrek van enige deelname aan tenderprosesse in Limpopo.

On-Point Engineers is die maatskappy waarin Julius Malema se Ratanang-familietrust aandele besit. Dié onthullings is vervat in ʼn vertroulike brief waarin Ntau Letebele, departementshoof van paaie en vervoer in Limpopo, vir Lesiba Gwangwa van On-Point Engineers versoek het om ondersoek in te stel na ernstige bewerings wat daarop dui dat die departement se verkrygingsprosedures en -prosesse “onder verdenking geplaas word” deur ene mnr. B. Mhakha, ʼn On-Point Engineers-werknemer. Die departement het On-Point Engineers in die brief versoek om self ondersoek na Mhakha se optrede in te stel (die brief is beskikbaar by http://www.afriforum.co.za/).

AfriForum se navrae aan On-Point Engineers en die departement of sodanige ondersoek ingestel is en wat die uitslag daarvan was, is tot dusver onbeantwoord en dit wil voorkom of niks van die verlangde ondersoek gekom het nie. Mhakha is steeds in diens van die maatskappy. Volgens Nantes Kelder, hoof van die AfriForum-ondersoekeenheid, laat die bewerings van korrupsie teen ʼn On-Point-werknemer ernstige vrae oor die Limpopo departement van paaie se tenderprosesse ontstaan. On-Point Engineers is deur die departement aangestel om die evaluering en verkiesing van suksesvolle tenders te behartig teen ʼn vergoeding van R51 974 057 oor ʼn periode van drie jaar. On-Point Engineers se aanstellingsbrief is ook beskikbaar by http://www.afriforum.co.za/.

Om meer hieroor te lees en oor AfriForum se nuwe ondersoekeenheid kliek hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.