AfriForum ondersoek Vrystaat se R120 miljoen-webwerf

Die webwerf se tuisblad.

AfriForum gaan die Vrystaat-regering se opspraakwekkende webwerftender van miljoene rande deur ʼn onafhanklike kenner laat ondersoek. Die burgerregte-organisasie het ná 3 maande daarin geslaag om die tenderdokumente by die kantoor van die Vrystaatse premier, Ace Magashule, in Bloemfontein te verkry.

“Die buitensporige bedrae is kommerwekkend, en hoe verder ʼn mens deur die dokumente werk, hoe duideliker word dit dat daar heelwat vrae omtrent dié tender te vra is,” het CW Els, AfriForum se organiseerder vir die Vrystaat gesê.

Webwerfontwikkelaars het al verskeie kere kommentaar oor dié tender gelewer. Hulle sê selfs die duurste, mees uitgebreide en interaktiefste webwerwe wat streng sekuriteitsfunksies het, behoort nie meer as ’n paar honderd duisend rand te kos nie.

Die tender beloop R119 680 231.00 waarmee 38 webwerwe van die Vrystaatse Regering oor ʼn tydperk van vier jaar (2011 tot 2014) oorgedoen en instandgehou moet word.

Els sê dit is duidelik dat die webwerwe nog nie aandag geniet het nie. “Die inligting op die werwe is verouderd. Volgens die Tokologo Munisipaliteit se webwerf is die munisipale bestuurder wat reeds in April vervang is nog in dié pos. Kontakbesonderhede op verskeie webwerwe is verkeerd en dokumentasie wat ingevolge wetgewing op die webwerwe moet verskyn, ontbreek.

“Daar is sedert 2011 reeds meer as R70 miljoen spandeer, en ʼn verdere R41 miljoen sal gedurende 2013/2014 spandeer word. Dit is die duidelikste voorbeeld van belastinggeld wat verkwis word. Dít, terwyl dienslewering in die provinsie tekortskiet. Dié geld kon aangewend word om die dreigende waterkrisis op te los,” het Els gesê.

Cherry Online Design, Ikamva IT Solutions en Jugganaut vorm deel van die korsortium wat die kontrak gekry het. Twee van dié maatskappye het egter self bedenklike webwerwe.

AfriForum moedig mense aan om by die burgerregte-organisasie aan te sluit en saam op te staan teen korrupsie soos dié. SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willy ·

Sterkte AfriForum. Skop daardie blik met wurms om en maak julle bevindings bekend.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.