AfriForum: ‘Onderwysminister saboteer leerders se toekoms’

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, sê hy het met skok kennis geneem van die minister van basiese onderwys se besluit dat senior leerders voortaan net een keer tussen graad 10 en graad 12 mag druip en daarna outomaties deurgesit moet word.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, bewys die minister leerders geen guns nie. “In sy staatsrede het president Jacob Zuma verlede week groot gewag gemaak van die belang van gehalte-onderwys en die noodsaaklikheid dat jongmense werksgeleenthede moet kry. Ongelukkig moet die onderwysstelsel eers mense lewer wat dit vir werkgewers die moeite werd maak om hulle in diens te neem. As dit vir ʼn werknemer onduidelik is of ʼn leerder graad 10 tot 12 op meriete geslaag het, gaan hy nie moeite doen om aan die matrikulant werk te gee nie. As ʼn leerder in graad 10 druip en weet hy gaan in graad 11 en 12 deurgesit word, watter aanmoediging is daar vir hom of haar om alles in te sit om die twee jaar te slaag?” Nog ʼn komplikasie is dat leerders wat wel op meriete slaag, se matriekuitslae binne so ʼn bestel onder verdenking gebring sal word. Niemand sal weet wie werklik die kwalifikasie verdien nie.

Bailey meen dat die onderwysdepartement besig is om met ondeurdagte beleidsaanpassings en wanadministrasie die toekoms van die Suid-Afrikaanse jeug te saboteer. Dit lei ook tot frustrasie onder onderwysers, en die onderwysberoep verloor só van sy belowendste lede. “Hierdie besluit van die minister bewys net weer dat dit hoog tyd is om haar te vervang met iemand wat die jeug se welsyn as prioriteit stel en bereid is om ʼn kultuur van uitnemendheid en aanspreeklikheid binne die departement te vestig,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.