AfriForum oorweeg regstappe oor Noordwes-waterkrisis

AfriForum vergader vandag met sy regspan om stappe te bespreek wat gedoen kan word teen persone en instansies wat vir die waterkrisis in verskeie dorpe in die Noordwes verantwoordelik is.

AfriForum se tak in Potchefstroom het vandag die munisipaliteit skriftelik versoek om ʼn dringende aksieplan vir die waterkrisis in die dorp, het Ian Cameron, AfriForum organiseerder vir Noordwes, gesê.

Dele van Rustenburg is ook al vir 10 dae sonder water sonder dat die munisipaliteit antwoorde op lede se navrae verskaf. Dit is dieselfde munisipaliteit wat volgens die spesiale ondersoekeenheid se verslag meer as R24 miljoen se inkomste uit belasting nie kan opspoor nie. “Ons is bekommerd oor hierdie amptenare se algemene onbevoegdheid,” het Cameron bygevoeg.

Lichtenburg is nog ʼn dorp waar watervoorsiening uiters problematies is. “Lede van die gemeenskap en ander organisasies soos die sakekamer werk nou al weke lank om self die probleem op te los wat eintlik die distriksmunisipaliteit se plig is,” sê Cameron. Lichtenburg is een van die waterrykste dorpe in Suid-Afrika en tog kan die distriksmunisipaliteit nie die diens verskaf nie.

Die Noordwes-provinsie skuld meer as R5.3 miljard aan diensverskaffers soos Eskom. Klerksdorp skuld R980 miljoen, onder meer aan Eskom en MidVaal Water. Die dorp is op sy eie verantwoordelik vir meer as 20% van Noordwes se totale skuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.