AfriForum oorweeg spesiale belastinggebiede

Hartbeespoort-dam en omgewing

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Woensdag begin om die gemeenskap van Hartbeespoort in Noordwes se mening in te win oor die moontlike vestiging van ʼn spesiale belastinggebied (SBG).

“ʼn Dorpsgebied kan drasties verbeter word indien só ʼn stelsel reg bedryf word,” het Ian Cameron, AfriForum se organiseerder in Noordwes gesê. “AfriForum wil plaaslike gemeenskappe soos Hartbeespoort eers raadpleeg om te bepaal of daar wel ʼn behoefte vir só ʼn inisiatief is. Daar is dikwels teenkanting wanneer diensverbetering ter sprake kom omdat dit meer kos, maar die organisasie meen dat hierdie tipe stelsel baie goed kan werk as dit doeltreffend bestuur word.”

SBG’s word gefinansier deur ʼn addisionele heffing op erfbelasting te hef. Die SBG-bestuur gebruik hierdie fondse om addisionele dienste te lewer. Volgens AfriForum is SBG’s reeds suksesvol in verskeie dorpe en stede tot stand gebring en die heffings wissel van 1% tot 2% van die bestaande erfbelasting. “Die SBG’s kan selfs voltydse personeel aanstel om dienslewering deurlopend te verbeter,” het Cameron verder verduidelik. “Hierdie stelsel sal egter net ingestel kan word as belastingbetalers in die gemeenskap daartoe instem. Daarom wil AfriForum eers by die gemeenskap hoor wat hulle mening is.”

Kragtens die Wet op Munisipale Eiendomsbelasting Nr.6 van 2004, artikel 22 word ʼn SBG ingevolge ʼn munisipale besluit in die lewe geroep. Onderskeid sal volgens eiendomskategorieë getref word om te bepaal waar presies belastingheffings sal plaasvind. Grense sal deur die munisipaliteit bepaal word op grond van ʼn geografiese omskrywing.

“Die groot voordeel is dat die uitvoerende komitee verteenwoordigend is van die gemeenskap se belastingbetalers, wat beteken dat belastingbetalers se belange op die hart gedra word,” het Cameron bygevoeg.

Cameron het verder verduidelik dat SBG’s nie gebruik mag word om bestaande ongelykhede in munisipale ontwikkeling te versterk nie, maar liewer om bestaande strukture te versterk.

Die volgende sake kan onder meer verbeter en opgradeer word:
• Swak paaie
• Straatligte
• Veiligheidsdienste
• Sypaadjies, parke en pleine.

Om jou mening te lug oor hierdie inisiatief, stuur ʼn e-pos na [email protected] of SMS “Ja” as jy so ʼn inisiatief ondersteun of “Nee” as jy daarteen is na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

De Wet Momberg ·

Betaal ons nie alreeds deur ons nekke en kry boggerall daarvoor nie ? Ons het nie eers sypaadjies of parke nie en ons paaie is pateties terwyl ons getrou betaal !

De Wet Momberg ·

Ook nie straatligte , pleine of sekerheids dienste nie ! Slegs as hulle ons ‘n waarborg en ‘n redelikke tyd van die beplande oprigting daarvoor kan gee in ruil vir die 1 of 2 persent sal ek dit betaal ! Ons almal weet dis onmoontlik op daardie persentasie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.