AfriForum opponeer Tshwane-metroraad appèlaansoek

Die burgerregte-organisasie AfriForum sal die aansoek van die Tshwane-metroraad om verlof tot appèl teen die uitspraak en bevele van Regter Bill Prinsloo op 19 April teenstaan.

Regter Prinsloo het ‘n bevel gemaak waarin die Munisipaliteit gestop word om die ou straatname in Pretoria te verwyder, hangende die afhandeling van ‘n hersieningsaansoek wat deur AfriForum gebring is teen die verandering van 25 straatname in die hoofstad.

Die Tshwane-metroraad het in hul kennisgewing vir die aansoek om verlof tot appèl aangedui dat hulle die Hooggeregshof sal nader om appèl aan te teken teen die uitspraak en bevel, óf voor ‘n vol bank van die Noord-Gautengse Hooggeregshof óf voor die Hoogste Hof van Appèl in Bloemfontein.

AfriForum is oortuig daarvan dat die hofbevel, om die ou name terug te sit, op goeie gronde toegestaan is en dat daar geen regsbasis vir die Munisipaliteit is om teen die bevel te appelleer nie. AfriForum sal die aansoek om verlof tot appèl teenstaan. Indien dit toegestaan sou word, sal AfriForum verseker dat die belange van Pretoria se inwoners verteenwoordig word in enige hof wat só ‘n appèl sal aanhoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.