AfriForum pak nog ’n hofsaak teen e-tol aan

Die burgerregte organisasie, Afriforum, is besig met voorbereidings vir nóg ‘n hofsaak teen die Gautengse e-tolstelsel.

Die organisasie wil die sogenaamde straftarief van R1,75 per kilometer, wat gehef sal word op diegene wat nie vir die e-tol geregistreer het nie, in die hof beveg. AfriForum het reeds ’n prokureursbrief aan die departement van vervoer gestuur waarin geëis word dat die kennisgewing rakende die ‘straftarief’ wat op 13 April 2012 in die Staatskoerant gepubliseer is, teruggetrek moet word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, bied die interdik wat teen die implementering van die e-tolstelsel toegestaan is, aan AfriForum die geleentheid om ander probleme met die toltariewe, wat nie deel van die huidige regsaksies is nie, ook voor die hof te bring om seker te maak dat motoriste nie onbillik behandel word nie.

AfriForum voer volgens Kriel aan dat Sanral se eensydige besluit om sonder genoegsame kennisgewing en openbare deelname ‘straftariewe’ in te stel, strydig met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (Wet 3 van 2000) is. Dié wet vereis dat diegene wat nadelig deur ’n administratiewe handeling geraak word, die geleentheid moet kry om kommentaar daarop te lewer.

Kriel wys daarop dat Sanral strydig met die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998) optree deur ‘straftariewe’ te gebruik om die agentskap en die e-tolstelsel se dominante en nie-mededingende posisie te verskans. Artikel 8(a) van dié Wet bepaal uitdruklik dat ’n dominante maatskappy nie sy posisie van oorheersing mag misbruik om buitensporige tariewe tot nadeel van verbruikers te hef nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.