AfriForum reik haatspraakklag teen Lamola uit

Ronald Lamola. Foto: Times Live

Ronald Lamola. Foto: Times Live

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Maandag ʼn klag van haatspraak teen die waarnemende president van die ANC Jeugliga, Ronald Lamola, in die Noord-Gautengse hooggeregshof uitgereik.

Die klag volg na aanleiding van Lamola se opmerkings verlede maand dat die ANC Jeugliga nie langer die veiligheid van die “Van der Merwes en die Van Tonders” op hulle plase kan waarborg indien wit Suid-Afrikaners weier om vrywillig hulle grond en minerale hulpbronne aan die meerderheid Suid-Afrikaners oor te dra nie.

Lamola is, behalwe vir sy rol as waarnemende president van die ANC Jeugliga, ook ʼn praktiserende prokureur in Pretoria.

AfriForum het besluit om weens die erns van die klag teen Lamola, asook die feit dat sy uitlatings op verskillende plekke in die land gemaak is, die klag regstreeks by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria (die afdeling waar Lamola as prokureur praktiseer) in te dien.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies het gesê dat AfriForum die klag gelê het omdat die gebruik van ras as metafoor om ongelykhede in die samelewing te definieer, baie gevaarlik is.  Lamola is nie meer net ʼn kommentator wat namens armes van die land praat en risiko’s uitwys nie.  Hy het nou ʼn aktiewe aanstigter en pleitbesorger vir wetteloosheid en gewelddadige grondgryp-aksies geword.

Die klag sal vroeg vandeesweek op Lamola beteken word, waarna hy die geleentheid sal kry om daarop te reageer.  Die verwagting is dat die adjunk-regter-president van die Noord-Gautengse Hooggeregshof dan ʼn regter sal aanwys om die klag te hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.