AfriForum sê ANC-wraaksug is die rede vir naamsveranderings

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die uitspraak van Dakota Legoete, die ANC-hoofsweep in die Tlokwe-munisipaliteit, Woensdag tydens ʼn mediakonferensie dat die ANC in reaksie op gebeure in dié munisipaliteit nou Potchefstroom se naam wil verander, dien as bevestiging dat die ANC se verandering van plek- en straatname met ʼn besondere kultuur-historiese waarde, deur wraaksug aangevuur word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is Legoete se uitspraak ʼn bewys dat die ANC se pogings tot dusver om die verandering van plekname as ʼn poging om “eenheid te bevorder” voor te hou, ʼn leuen is. “Nou kan almal sien dat die verandering van plek- en straatname met ʼn besondere kultuur-historiese waarde inderwaarheid ʼn poging is om minderhede oor die algemeen en Afrikaners in die besonder by te kom,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat wraakgedrewe naamsverandering tot polarisasie lei, iets wat volgens hom tot nadeel van almal in die land is.

Volgens Kriel is die ANC se polariserende uitsprake en optredes aansporing vir AfriForum om nog harder te werk om die regerende party se disrespek teenoor en miskenning van minderheidsgemeenskappe teen te staan. “AfriForum sal ook sy pogings verskerp om wedersydse erkenning en respek tussen gemeenskappe te bevorder,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.