AfriForum se interdik teen Zim-helikopters bekragtig

Alouette III

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het vandag ‘n voorlopige interdik, wat op 25 Januarie 2013 teen die minister van verdediging gegee is, bekragtig.  Die interdik maak daarvoor voorsiening dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) nie mag voortgaan met die lewering van Alouette III-helikopters aan die Zimbabwiese Lugmag nie, hangende die afhandeling van ‘n omvattende hersieningsaansoek wat AfriForum teen die minister van verdediging asook teen Krygkor en die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee gaan bring.

Volgens die hofbevel, wat by wyse van ooreenkoms tussen die partye verleen is, moet die minister van Verdediging teen nie later nie as 28 Februarie 2013 die volledige rekord van sy besluitneming aangaande die lewering van Alouette III-helikopters aan die Zimbabwiese Weermag, by die hof indien.  AfriForum kan dan sy hofstukke aanvul, waarna ‘n antwoord deur die minister gelewer sal word voor die saak op 27 Maart 2013 in die hof aangehoor gaan word.

AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het in reaksie op die verlening van die interdik sy dankbaarheid te kenne gegee en gesê dat die stryd sal voortgaan om wreedheid en menseregtevergrype in Zimbabwe aan bande te lê.

Alouette III-helikopters is in die Bosoorlog deur die Suid-Afrikaanse Lugmag in hakkejagoperasies gebruik en het in die omgangstaal as “gunships” bekendgestaan omdat die helikopters toegerus is met 20 mm-kanonne wat vir lug-tot-grondaanvalle gebruik is.

Die helikopters is ook deur die destydse Rhodesiese Weermag tydens die Rhodesiese Bosoorlog teen Zanla- en Zipra-magte gebruik. Sedert onafhanklikheidswording het die Zimbabwiese Weermag eweneens die helikopters in gevegsituasies gebruik.

Volgens berigte het die Zimbabwiese Weermag onlangs nog Alouette-helikopters tydens optrede in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebruik.

Opposisielede is bekommerd dat die skenking van Alouette-helikopters aan die Zimbabwiese regering ‘n boodskap stuur dat die Suid-Afrikaanse regering die Zimbabwe Weermag se gebruik van geweld om president Robert Mugabe aan bewind te hou, goedkeur en dat Suid-Afrika op dié manier selfs medepligtig raak aan die menseregtevergrype in Zimbabwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.