AfriForum seminaar: Is taalregte noodsaaklik?

Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale, Wet 12 van 2012, het Donderdag, 2 Mei, in werking getree.

“Dit is veronderstel om ʼn groot mylpaal in die geskiedenis van die land te wees, want dit is ʼn wet waarop al gewag word sedert die aanvaarding van die Grondwet. Tog het hierdie geleentheid byna ongemerk verbygegaan,” het Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, gesê. “In die nasionale en internasionale media word veel gesê oor die sogenaamde Geheimhoudingswet en die maniere waarop dit die vloei van inligting in die land gaan strem.”

Volgens Bailey gaan dié talewet egter presies dieselfde uitwerking hê, want met die gebrekkige voorsiening wat dit vir die gebruik van Suid-Afrikaanse tale maak en die verengelsing wat reeds in die openbare lewe in Suid-Afrika plaasgevind het, gaan dit mense wat minder vlot in Engels is, van amptelike inligting en kommunikasie uitsluit. Daar is, volgens Bailey, min in die wet en nog minder in die meegaande regulasies wat Vrydag in die Staatskoerant verskyn het, wat ruimte skep daarvoor om mense hoegenaamd in meer Suid-Afrikaanse tale te bemagtig.

Bailey meen dit is ironies dat Suid-Afrika bemark word as ʼn land wat sy mense se diversiteit vier, terwyl die regering en staat egter juis taaldiversiteit vernietig deur Engels in skole en die staatsektor op alle moontlike wyses bevorder, ten koste van die ander amptelike tale. “Die regering vier dus diversiteit deur ons heterogene taalgemeenskap te dwing tot homogeniteit en dit bemagtig die sprekers van die amptelike tale van ons land deur hulle almal tot ʼn gelyke mate te ontmagtig,” het sy gesê.

Met die voorafgaande feite in gedagte en die besoek van dié regskenner op die gebied in die wêreld, dr. Fernand de Varennes aan Suid-Afrika, het AfriForum ʼn seminaar aangebied om te ondersoek waarom taalregte van belang is. Dr. De Varennes het die betekenis van taalregte en beste internasionale praktyke op die gebied bespreek. Ander sprekers wat by die geleentheid opgetree het, is prof. Koos Malan van die Universiteit van Pretoria, wat spesifiek op die stand van taalregte in Suid-Afrika fokus. Die prokureur en bekende taalaktivis, Cerneels Lourens, het die jongste inligting oor sy regsaksie in verband met die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale van 2012 toegelig en prof. Steve Cornelius, ook van die Universiteit van Pretoria, het die program afgesluit met ʼn opsomming van taalregte wat reeds in wetgewing erkenning geniet, maar nog nie voldoende opgeëis word nie.

Die referate sal getranskribeer word en later vandeesmaand aan alle belangstellendes beskikbaar gestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.