AfriForum soek name van afgedankte munisipale amptenare

AfriForum het Dinsdag ʼn brief aan die departement van plaaslike regering en tradisionele sake gestuur waarin hulle ʼn lys van afgedankte munisipale amptenare aanvra, wat in die pad gesteek is as gevolg van die pleeg van ʼn misdryf.

Die aksie is deur AfriForum geloods, nadat dié burgerregte-organisasie verneem het van munisipale amptenare wat na bewering weens bedrog afgedank is en kort daarna weer aangestel is in plaaslikeregeringsposte.

Ian Cameron, AfriForum se organiseerder vir die Noordwes-provinsie het gesê hulle het besluit om hierdie inligting aan te vra nadat gemeenskappe verskeie klagtes oor aanstellings by munisipaliteite by AfriForum aangemeld het.

Die Ditsobotla Munisipaliteit in Lichtenburg is een van die munisipaliteite waaroor klagtes ontvang is. Dié munisipaliteit het glo ʼn finansiële bestuurder aangestel, nadat hy by die Noordwes Padagentskap vir bedrog afgedank is.

“Ons verwag nie dat die departement hierdie inligting aan ons sal voorsien nie, aangesien die blootlegging daarvan die ontplooiing van kaders, wat aan misdrywe van welke aard ookal skuldig is, in die wiele sal ry. AfriForum sal egter aanhou probeer om hierdie inligting te bekom,” het Cameron gesê.

Die Wet op Munisipale Stelsels bevestig dat die departement ʼn gedetailleerde lys moet hê van alle persone in plaaslikeregeringsinstansies wat skuldig bevind is aan misdrywe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.