AfriForum: ‘Staatsrede bied weinig antwoorde op krisissituasies in die land’

President Jacob Zuma lewer sy staatsrede. Foto: @GCIS_Media

Die burgerregte-organisasie AfriForum sê hoewel president Jacob Zuma meeste van die ernstigste probleme in die land genoem het tydens sy staatsrede Donderdagaand, het die president se rede min doen om sy gehoor gerus te stel dat die kwessies daadkragtig aangepak sal word.

Alana Bailey, die adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê helaas is weinig ook gedoen om die regering se aandeel in die skep van die probleme te identifiseer en is dit eerder op die rug geklop vir negeerbare prestasies. “Die president het tereg genoem dat onderwys ʼn sleutel tot die sukses van enige land is – en meer so in die geval van Suid-Afrika waar sowat ʼn derde van die bevolking onder 15 is. Tog beskerm hy skynbaar die reg van onderwysers om te staak en skram weg van moeilike vrae, byvoorbeeld wanneer skole al hulle handboeke gaan ontvang, en of die ANA-toetse en matriekuitslae van 2012 enigsins geloofwaardig is.” Bailey sê dieselfde kan gesê word van misdaad. “Die president skryf die daling van misdaadsyfers aan ʼn meer effektiewe polisiediens en wetgewing toe, maar maak geen melding van die feit dat privaat sekuriteitsmaatskappye en gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe ʼn enorme rol speel in die bestryding van misdaad nie. Terwyl die land sowat drie privaat sekuriteitspersone benodig vir elke polisieman om ons misdaadsyfers met so min te verminder, is daar nog geen rede tot ʼn klop op die skouer vir die regering nie.”

Bailey sê die president se kommentaar oor die grondkwessie is egter die saak wat AfriForum die meeste bekommer. “Weer eens verwys hy na die noodsaak om van die beginsel van ‘gewillige koper, gewillige verkoper’ af te wyk. Geen erkenning word gegee aan die feit dat die staat se wanadministrasie die herverdelingsproses van grond vertraag nie en so word die illusie geskep dat die stadige proses die gevolg van verkopers se gierigheid en onwilligheid is – ʼn gevaarlike wanpersepsie. Hierdie houding van die president doen weinig om Suid-Afrikaners en buitelandse beleggers gerus te stel oor die toekoms van privaatbesit in die land – ʼn sleutelbeginsel vir ʼn suksesvolle ekonomie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.