AfriForum steeds bekommerd oor Afrikaans in staatsdiens

Die burgerregte organisasie AfriForum het die nuus die aanpassing van die konseptalewet dat tale wat staatsdepartemente en verwante entiteite gebruik, enige drie amptelike tale mag wees, verwelkom.

Volgens Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ʼn stap in die regte rigting, maar sal baie nog gedoen moet word om amptenare en politici te leer dat taal meer as ʼn kommunikasiemiddel is. “Solank daar op die status van tale van Suid-Afrikaners neergesien word, sal wedersydse erkenning en respek ontbreek. Taal is ʼn onlosmaakbare deel van ʼn individu en ʼn gemeenskap se identiteit. Indien ʼn taal geminag word, ervaar die sprekers daarvan dit ook as disrespek en verwerping,” het Bailey gesê.

Tans ondersoek AfriForum talle klagtes teen staatsdepartemente en verwante entiteite oor hulle gebruik van Afrikaans of die totale gebrek aan dienslewering in dié hoëfunksie taal. ʼn Vorm van die departement van binnelandse sake wat wemel van taal- en spelfoute is byvoorbeeld gister onder die aandag van senior amptenary van die departement gebring. In antwoord op ʼn medianavraag, het Ronnie Mamoepa, woordvoerder van die departement, verklaar dat AfriForum dit maar self moet vertaal as hulle fout te vinde het. “AfriForum het geen beswaar om te help met vertalings waar die vermoë of fondse ontbreek nie, maar die soort reaksie oor ʼn amptelike dokument in onverstaanbare formaat is skokkend. Dit getuig nie net van onprofessionalisme en wanadministrasie nie, maar van vele amptenare en politici van die regerende party se negatiewe houding jeens Afrikaans. Hopelik is die aanpassing van die Talewetsontwerp die begin van ʼn beter bestel. AfriForum sal die situasie fyn dophou en waar moontlik die regte van Afrikaanssprekendes beskerm en bevorder,” het Bailey gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.