AfriForum stel gemeenskapsplan by nasionale kongres bekend

Die burgerregte-organisasie AfriForum se eerste nasionale kongres het vandag in Pretoria begin waartydens AfriForum se gemeenskapsplan bekendgestel is. Die geleentheid word deur nagenoeg 160 lede van AfriForum se plaaslike strukture regoor Suid-Afrika bygewoon.

Die Gemeenskapsplan is ʼn praktiese riglyn wat aan takke raad en ondersteuning voorsien om hulle plaaslike gemeenskappe te mobiliseer ten einde die beskerming van hulle menseregte te verseker. Die Gemeenskapsplan is ook daarop gemik om gemeenskappe te bemagtig om diensleweringsuitdagings in hulle dorpe en stede suksesvol aan te pak.

“Elke tak wat by die kongres verteenwoordig is, kry ʼn praktiese handleiding wat aan besture wenke gee hoe om burgerregtevergrype, swak dienslewering, die vernietiging van die omgewing, misdaad en geweld asook hoë belastings en die agteruitgang van infrastruktuur op plaaslike vlak te hanteer,” het Cornelius Jansen van Rensburg, AfriForum se adjunk uitvoerende hoof gesê. “Deur middel van hierdie plan hoef gemeenskappe en minderhede nie langer op die regering te wag om aan hulle te gee wat hulle toekom nie. Hulle kan self daarvoor sorg.”

AfriForum het reeds 106 gevestigde takke regoor die land wat op verskeie fronte samewerking van plaaslike owerhede gekry het om probleme op te los, en self ook van hierdie probleme die hoof gebied het.

Die kongres loop Saterdag ten einde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.