AfriForum stel nuwe ondersoekeenheid bekend

afriforum-logo-3AfriForum se ondersoekeenheid het vandag onthul dat die departement van paaie en vervoer in Limpopo verlede jaar op 30 November amptelik versoek het dat ʼn werknemer van On-Point Engineers, die maatskappy waarin Julius Malema se Ratanang-familietrust aandele besit, weens beweerde korrupsie moet onttrek van enige deelname aan tenderprosesse in Limpopo. Dié onthullings is vervat in ʼn vertroulike brief waarin Ntau Letebele, departementshoof van paaie en vervoer in Limpopo, vir Lesiba Gwangwa van On-Point versoek om ondersoek in te stel na ernstige bewerings wat daarop dui dat die departement se verkrygingsprosedures en -prosesse “onder verdenking geplaas word” deur ene mnr. B. Mhakha, ʼn On-Point-werknemer. Die departement het On-Point in die brief versoek om self ondersoek na Mhakha se optrede in te stel (die brief is beskikbaar by www.afriforum.co.za).

AfriForum se navrae aan On-Point en die departement of sodanige ondersoek ingestel is en wat die uitslag daarvan was, is tot dusver onbeantwoord en dit wil voorkom of niks van die verlangde ondersoek gekom het nie. Mhakha is steeds in diens van die maatskappy.

Volgens Nantes Kelder, hoof van die AfriForum-ondersoekeenheid, laat die bewerings van korrupsie teen ʼn On-Point-werknemer ernstige vrae oor die paaiedepartement in Limpopo se tenderprosesse ontstaan, aangesien On-Point deur die departement aangestel is om die evaluering en verkiesing van suksesvolle tenders te behartig teen ʼn vergoeding van
R51 974 057 oor ʼn periode van drie jaar. On-Point se aanstellingsbrief is ook beskikbaar by www.afriforum.co.za.

Kelder het ook aangedui dat AfriForum bewyse bekom het wat daarop dui dat On-Point self voordeel getrek het uit tenders wat toegeken is, ten spyte daarvan dat die maatskappy bystand verleen het in die toekenningsproses. AfriForum het ʼn afskrif van ʼn ooreenkoms tussen On-Point en Mpotseng Infrastructure CC openbaar gemaak, waarin aangedui word dat On-Point vergoeding sou ontvang vir ʼn tender wat aan Mpotseng Infrastructure toegeken is. In die kontrak word ooreengekom dat On-Point se betrokkenheid selfs nie aan die Nasionale Tesourie openbaar mag word nie.

AfriForum het ook ʼn faktuur bekom waarin On-Point vergoeding van sowat R1,2 miljoen by Mpotseng Infrastructure aangevra het. Die kontrak en faktuur is by www.afriforum.co.za beskikbaar.

AfriForum is verder bewus van ses tenders ter waarde van meer as R5 miljoen wat Mpotseng Infrastructure teen die einde van verlede jaar al bekom het.

Kelder het aangedui dat die inligting wat deur die AfriForum-ondersoekeenheid bekom is, asook ander inligting wat die eenheid in die proses is om te bekom, aan die Valke oorhandig sal word. Die Valke het onlangs aangedui dat hulle besluit het om ondersoek in te stel na die klag van korrupsie wat AfriForum teen Julius Malema ingedien het.

“Ons het besluit om die inligting openbaar te maak, om ʼn duidelike boodskap te stuur aan diegene wat by korrupsie in Limpopo betrokke is. Hul dade gaan openbaar gemaak word en ons beveel aan dat hulle nou self na vore tree en hul rol aan die Valke bekend maak,” het Kelder gesê.

Meer oor AfriForum se ondersoekeenheid teen korrupsie en ander misdade:

Die burgerregte-waghond AfriForum het sy eie ondersoekeenheid gestig om korrupsie en ander misdade wat van openbare belang is, te ondersoek. Dié ondersoekeenheid sal veral fokus op gevalle waar korrupsie met belastingbetalersgeld gepleeg word, asook gevalle waar die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) hul ondersoekplig nie na behore nakom nie, hul mag misbruik en/of onregmatige arrestasies uitvoer. Die AfriForum-ondersoekeenheid beplan ook om privaatvervolgings in te stel in sake waar die staat weier om verdagtes te vervolg, ten spyte van genoegsame bewyse vir vervolging.

Nantes Kelder, wat voorheen ʼn speurder by die SAPD en spesiale ondersoekspan vir die Nasionale Direkteur vir Openbare Vervolging was en ook by die Regulerende Owerheid vir die Private Sekuriteitsbedryf (PSIRA) gewerk het, sal aan die hoof van die AfriForum-ondersoekeenheid staan. Kelder sal sy huidige pos as AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid ontruim om voltyds sy aandag aan die ondersoekeenheid se werksaamhede te wy. Die AfriForum-ondersoekeenheid sal ook op ʼn ad hoc-basis gebruik maak van die dienste van ʼn wye reeks forensiese spesialiste.

Volgens Kelder is die stigting van die AfriForum-ondersoekeenheid genoodsaak deur die feit dat lede van die publiek AfriForum toenemend begin nader het met inligting rakende korrupsie in die regering en klagtes rakende laksheid en magsmisbruik deur lede van die SAPD.

Kelder het daarop gewys dat die AfriForum-ondersoekeenheid nie daarop gemik is om die SAPD se rol oor te neem nie, maar om aanvullend tot die SAPD se werksaamhede op te tree. Volgens Kelder sal die bewyse wat sy eenheid in misdaadondersoeke bekom, aan die SAPD gegee word om te help om toe te sien dat oortreders vervolg word.

“AfriForum sal graag saamwerk met toegewyde polisielede wat hul werk goed doen ten spyte van die groep vrot appels wat ook in die SAPD voorkom,” het Kelder gesê. Volgens Kelder is privaatvervolging die laaste uitweg, wat slegs gevolg sal word indien die SAPD en nasionale vervolgingsgesag nie hul verpligtinge nakom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.