AfriForum stel verskerpte aksieplan teen plaasmoorde bekend

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum

AfriForum het Donderdag in Centurion ’n verskerpte veldtog teen plaasmoorde bekendgestel. Dit volg ná die vlaag plaasaanvalle wat die land sedert die begin van die jaar geteister het. Sedert die begin van 2014 is 24 insidente op plase en kleinhoewes aan AfriForum gerapporteer, waartydens minstens drie boere vermoor is.

Die aksieplan sluit ’n verskerpte bewusmakings- en protesveldtog in, waarmee verdere druk op die minister van polisie, Nathi Mthethwa geplaas sal word om plaasmoorde te prioritiseer, sowel as ’n uitgebreide plaaslike selfdoenstrategie.

Die burgerregte-organisasie het ook vandag aangekondig dat hy ’n taakspan sal saamstel om ʼn omvattende studie oor plaasmoorde te doen. Vir hierdie projek sal ʼn verskeidenheid gevallestudies regoor die land onderneem word. Onderhoude sal met slagoffers, naasbestaandes, plaaswerkers en veroordeelde plaasmoordenaars gevoer word om vrae om die verskynsel te verklaar.

Die plaaslike selfdoenstrategie sal die volgende projekte regoor die land insluit:

  • Patrolliestelsels/Sigbare polisiëring
  • Radionetwerke
  • Insidentbeheerstelsels
  • Voltyds bemande beheerkamers
  • Privaat noodhulp en dienste

AfriForum het verder aangekondig dat die organisasie reeds besig is om ’n projek vir die ondersteuning van slagoffers van plaasmoorde saam te stel.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof, het gesê dat AfriForum met hierdie strategie beoog om die regering te dwing om teen plaasmoorde standpunt in te neem. “Daar bestaan geen rasionele rede waarom plaasmoorde nie deur die regering geprioritiseer word nie, behalwe dat die regering hom doodeenvoudig nie aan boere se veiligheid steur nie.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid van AfriForum, het bygevoeg dat die organisasie besef dat voortgesette druk op die regering nie die enigste oplossing kan wees nie. “As die polisie nie stappe doen om gemeenskappe te beveilig nie sal ons hierdie stappe self doen. Ons sal gemeenskappe help om hulle na hulle eie veiligheid om te sien.”

AfriForum het ook ’n platform op sy webblad geskep waar lede van die publiek plaasaanvalle kan aanmeld, sodat dit onder AfriForum en die departement van polisie se aandag gebring kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Ria Maritz ·

Uitstekend AfriForum – een probleem, Nathi Mthethwa sal oor sy dooie liggaam NIE erken dat plaasmoorde as prioriteit gesien word nie.

Sterkte in elkgeval met jul veldtog.

Grassie ·

Wel gedaan, Afriforum. Dit is `n geweldige groot taak wat julle aanpak en soos wat omstandighede in ons land steeds bly versleg gaan julle taak nog groter word. Ek bid julle die Skepper se bystand toe.

STEPHANIE ·

Groot taak, maar ons almal moet help, dalk kan Afriforum werk aan n strategie hoe almal in SA betrokke kan raak, veral ons wat in die stede bly.

PURE BOER ·

Afriforum moet aansluit by die verkiesings. Hulle sal beslus my x kry. Darem n organiesasie wat probleme raak sien en aksie neem. Ek stem ook saam met “STEPHANIE”. Ons almal moet help vir n beter toekoms en van die pes ontslae raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.