AfriForum van mening dat nuwe wetgewing meer werk benodig

AfriForum het kommentaar aan die parlement voorgelê na aanleiding van die voorgestelde wysigings aan sekere bepalings van die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur.

Volgens Julius Kleynhans, AfriForum se hoof van omgewingsake, is van die wysigings rede tot kommer. ‘AfriForum staan die verdeling van omgewingsverantwoordelikheid wat die departement van minerale hulpbronne (DMH) in staat sal stel om besluite oor omgewingsbestuur in die mynsektor te maak, teen. Ons voel dat hierdie hulle ʼn monopolie sal gee,’ het Kleynhans gesê.

‘Die departement van omgewingsake (DOS) fokus op die omgewing se welstand terwyl die DMH op die uitreiking van myn- en prospekteerlisensies fokus. As die huidige situasie in Suid-Afrika in ag geneem word, sal dit katastrofies wees om die DMH toe te laat om omgewingsake te bestuur. Waar die DOS gewoonlik sou ingryp waar ʼn omgewingsensitiewe area ontwikkel of gemyn word, sal die DMH nou kan doen net wat hy wil,’ het Kleynhans bygevoeg.

AfriForum is bekommerd dat hierdie wysiging ʼn ernstige risiko vir die omgewing en die toekomstige welsyn van Suid-Afrika sal inhou.

AfriForum steun die wysiging wat bepaal dat die WNO bindend op die staat is. ‘Dít is ʼn uitstekende wysiging aangesien die vorige afdeling ongrondwetlik was. Die wetsontwerp sal verseker dat diegene wat vir omgewingsoortredings verantwoordelik is, in dié geval die staat, aanspreeklik gehou sal word,” het Kleynhans gesê.

AfriForum sal die voorgestelde wysigings dophou om seker te maak dat die wetsontwerp die omgewing volhoubaar sal beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.