AfriForum verkla 2 dokters oor ANC-bomme

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het ʼn amptelike klag van onprofessionele en onetiese gedrag by die Raad op Gesondheidberoepe (RGSA) ingedien teen twee dokters wat in 1985 by ANC-bomaanvalle by onder meer supermarkte en winkelsentrums in die Durban-omgewing betrokke was.

Die dokters, lt.-genl. Vejaynand Ramlakan (voormalige geneesheer-generaal) en dr. Sibongiseni Dhlomo (huidige LUR vir gesondheid in KwaZulu-Natal), het albei voor die Waarheids-en-versoeningskommissie erken dat hulle gedurende die ANC se Operasie “Butterfly” ploftoestelle verskaf het vir die uitvoering van ‘n reeks bomaanvalle op onder meer burgerlike teikens.

AfriForum het hierdie klag gelê kort nadat dr. Wouter Basson deur die RGSA verhoor is vir optredes tydens die vorige bedeling.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is AfriForum se klag daarop gemik om die grondwetlike beginsel van gelykheid voor die reg te beskerm. “In die lig van die RGSA se besluit om op etiese gronde teen Wouter Basson op te tree weens dade tydens die konflik van die verlede, is dit billik om te verwag dat die RGSA ook op dieselfde etiese gronde moet optree teen mediese praktisyns wat tydens dieselfde konflik betrokke was by bomplantings waar mense beseer of gedood is of waartydens die moontlikheid bestaan het dat mense beseer of gedood kon word.”

Ses ander mediese dokters het ook, onafhanklik van AfriForum se klag, klagtes by die RGSA teen Ramlakan en Dhlomo ingedien.

Ramlakan en Dhlomo was gedurende die bomaanvalle praktiserende dokters en is steeds as dokters geregistreer.

Ramlakan het voor die WVK betrokkenheid by die bomaanvalle in 1985 op die huis van die politikus Amichand Rajbansi en die Chatsworth landdroshof erken. Hy het ook voor die WVK erken dat mense beseer is in van die ander bomaanvalle wat uitgevoer is deur mense wat onder sy bevel gestaan het.

Ook Dhlomo het voor die WVK erken dat hy ploftoestelle verskaf het vir onder meer die veelvuldige ontploffings op 27 September 1985 in Durban by onderskeidelik die OK Bazaar, Game, Spar en Checkers. Ander voorvalle waarby hy betrokke was, was die ontploffings in dieselfde jaar by die Grosvenor meisieskool en die Executive Hotel in Umlazi. Dhlomo het ook vir Andrew Zondo, wat die Amanzimtoti-bom geplant het waarin burgerlikes dood is, vanaf die Swazilandse grens na die Durban-omgewing vervoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

henk celliers ·

Man,Kallie julle maak n mens trots oor jul optrede rondom ongeregtigheid,gaan so voort

Christoffel ·

Dis voorwaar prysenswaardig AfriForum, maar waarom so lank geneem om die klag in te dien?

Mag reg en geregtigheid geskied.

Hendrik ·

Mooi so Afriforum – hierdie dubbele standaarde moet einde kry. Ek hoop die saak word net so wyd in die plaaslike en internasionale media gedra as die Wouter Basson saak. Vir die van julle wat nog wik en weeg of julle Afriforum moet ondersteun, KRY NOU JULLE GATTE IN RAT en sluit by hulle aan!

Andrë Grovë ·

Regverdigheid moet altyd seëvier. Wat vir die een geld, moet vir die ander geld. Volgens die ANC se toepassing van hierdie beginsel en hul manipulering van ondersoeke, sal ek graag wil sien hoe hulle hierop gaan reageer. AfriForum se optrede is korrek en hoop ek hulle is suksesvol.

Paul ·

Baie geluk met die optrede. As die Mediese Raad vir dr Basson kan terroriseer terwyl hy geen bomme geplant het nie, dink ek dat Afriforum hier 100% in die kol is. Ek wens net Afriforum kon orals so konsekwent optree maar nou ja niemand is perfek nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.