AfriForum verkla polisiebeamptes wat Afrikaanse verklaring weier

Ernst Roets

Ernst Roets

Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan klagtes van diskriminasie en swak dienslewering teen polisiebeamptes van die Lyttelton-polisiestasie in Centurion by die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, indien. Dit volg nadat die betrokke amptenare glo Dinsdag geweier het om Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, behulpsaam te wees toe Roets ‘n verklaring oor diefstal in Afrikaans wou ingee. Roets is glo gevra om die stasie te verlaat en terug te keer wanneer hy bereid is om van sy Afrikaanse verklaring afstand te doen.

“Ek het die stasie genader om ’n klag te lê nadat ’n persoonlike item van my gedurende die vakansie gesteel is. Die konstabel aan diens het geweier om my Afrikaanse verklaring te aanvaar. Ek het aan haar verduidelik dat ek ’n grondwetlike reg het om Afrikaans te gebruik en dat sy ’n grondwetlike plig het om my verklaring te neem. ’n Tweede polisiebeampte het toe aan my verduidelik dat hulle instruksies het om Afrikaanse verklarings te weier en uitsluitlik in Engels te werk, ongeag wat my regte is. Nadat ek vir ’n derde keer aan hulle verduidelik het dat hulle optrede op ’n skending van my regte neerkom, is ek gevra om die stasie te verlaat en terug te kom wanneer ek bereid is om van my Afrikaanse verklaring afstand te doen. Ek het uitgestap om ’n klag by die kantoor van die stasiebevelvoerder in te dien. Die bevelvoerder was nie in die kantoor nie, maar ’n Afrikaanssprekende polisiebeampte het my uiteindelik gehelp en wel ’n saak oopgemaak,” het Roets verduidelik.

Albei die beamptes wat glo Roets gevra het om die stasie te verlaat, het geweier om hul name aan Roets te verskaf en een van hulle het sy stem teen hom verhef. Laasgenoemde beampte kon wel later identifiseer word.

“Die grootste ironie is dat die offisier wat die aggressiefste was oor my versoek om Afrikaans te gebruik, vlot Afrikaans praat en dat die vorms wat ek moes invul tweetalig (Engels en Afrikaans) was. Die sogenaamde instruksie dat Afrikaans ontoelaatbaar is, kom dus op politieke moedswilligheid en ’n blatante skending van my regte op gelykheid en menswaardigheid neer.”

AfriForum het die publiek aangemoedig om hulle nie deur moedswillige staatsamptenare van stryk te laat bring nie en om steeds om op hul regte aan te dring.

“Ons regte is leë beloftes as ons nie bereid is om daarop aanspraak te maak nie,” het Roets gesê.

Maroela Media wag nog vir kommentaar van die polisie oor die aangeleentheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Kobus ·

Die een gemeenskaplike taal vir die elf amptelike tale is Engels. Dit is die besigheidstaal. Om te probeer om in Afrikaans te kommunikeer in Gauteng, Oos Kaap en Limpopo sal nie vêr gekom word nie. Besef en leef met dit want dit is die realiteit.

Sarie van Niekerk ·

Jammer Kobus ek kan nie met jou saamstem nie. Afrikaans is my taal en ek dring daarop aan om in Afrikaans behandel te word. As die wat op daai tydstip in die klagtekantoor is nie Afrikaans magtig is nie, daar is beslis iemand op die stasie wat wel Afrikaans magtig is. Dit is mense soos jy wat ons taal doodmaak

Kobus ·

Sarie ek deel jou sentiment, ek ook maar wees realisties. Jy kom nie vêr nie. Was jy onlangs in ‘n aanklagkantoor?

ai toggie ·

Kobus , ek stem saam jou! Jy gaan nie ver kom as jy aandring om heeltyd deur afrikaanse mense gehelp te word nie! Ek het net verlede week weer agter n man in resturant gesit wat aangedring het op n afrikaans sprekende persoon om hom te help. Die arme kelnerin wat ons ook bedien het was so verlee. En sy was so oulik. Dis als so onnodig. Miskien kán die mense nie engels praat nie? Shame. Maak dinge in SA net erger……

Leana ·

Kobus, nee wat, ek het al geleer om met gebaretaal met andersprekendes te kommunikeer. Dit werk vir my.
.

Sarie van Niekerk ·

Ernst Roets en Afrikforum het gewis my volle steun in hierdie saak van hulle. Dit is sommer nonsens hierdie dat staatsinstansies kan weier om enigiemand in Afrikaans te bedie. Afrikaans is een van die elf amptelike hulle AfriForum

Gawie Botha ·

Hierdie lede van die mag,moet gevra word of hulle sodanige opdrag van hoer gesag ontvang het,en of dit hulle eie besluit is,en waarom het hulle besluit om teen die grondwet te gaan,en hoekom hulle nog steeds apartheid probeer bevorder!

Linda ·

Ek en my dogter het dieselfde ondervind in Pretoria Noord Polisiestasie so 2 jaar terug! sy wou “rica” vir haar foon maar moes ‘n verklaring afle dat sy wel nog by ons aan huis woon, wel ons is toe na Pta Noord polisiestasie toe, sy vra vir die een agter die toonbank sy wil graag ‘n verklaring doen hy kyk haar so vuil aan en se sy moet asb engels praat want hy verstaan nie afrikaans nie ons doen toe ons verklaring in engels! maar glo my ek en sy het hom omtrent geseen in afrikaans want hy praat of verstaan ons mos nie!!!

Nienie ·

Jy MOET in jou taalkeuse bedien word – die Grondwet bepaal dit. Dis nie vir regeringsamptenare om andersins te besluit nie. Mnr Roets doen die regte ding. Ek was 21 jaar in die Polisiemag. Ek kon ook nie Sotho, Zoeloe of wat ook al verstaan, praat of skryf nie. Jy het `n tolk gesoek totdat jy een kon kry wat kon help. Ek moes een keer `n Portugese vrou uit die destydse LM, nou Mosambiek, help op Nelspruit. Sy kon gladnie kommunikeer in Engels nie. Die Portugese kafee-eienaar het baie blymoedig aangemeld vir sy tolkdienste. My vertolking vd hele situasie deesdae in Aanklagkantore, is dat die beamptes NIE wil werk NIE. Vandaar die verskoning dat hy/sy nie Afrikaans verstaan nie. As jy WIL werk, dan sal jy `n oplossing soek.

JD ·

Kobus en “ai toggie”. waar is julle patriotiese trots? Vaderland…dit is as gevolg van mense soos julle wat ons taal vertrap word, want julle gee maar gedweë in!!! Sies Man!!!!!!

Ria Maritz ·

JD: Dankie vir jou inset hier ! Ook diegene wat ons sentimente deel !

Dis van ALLES net aanvaar dat ons is waar ons is.

AFRIKAANS is my moedertaal, en ek SAL aandring daarop om in my taal bedien te word. Engels mag die “besigheidstaal” wees, maar ek se weer, die SAPD is NIE ‘N BESIGHEID NIE. Hulle is in die mag om die land te dien, maar ja, alles het ook so verander van die SAP verander het na die SAPD.

Ek wil laastens byvoeg, BAIE van die oud-SAP lede was ten minste 1 swart taal magtig.

Jan Breet ·

Kobus en ai toggie. Dis sulke mense soos julle wat die land gebring het waar dit vandag is. Ek woon naby die Polisiestasie en die bevelvoerder is net so korrup soos die polisiemanne wat geweier het. Ons moet saam staan en hierdie polisiestasie uitsorteer. Ek staan saam met Ernst Roets dat dit ons reg is, en ons sal veg vir dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.