AfriForum verkry hofbevel teen Mbombela-munisipaliteit

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het vandag ’n bevel uitgereik waarvolgens die Mbombela-munisipaliteit (Nelspruit) redes moet gee vir die weiering van die burgerregte-organisasie, AfriForum, se versoek om toegang tot rekords van die munisipaliteit te verkry wat betrekking het op die verdagte vervreemding van grond in Nelspruit.

Die doel van die vervreemding van die grond was die oprigting van die nuwe hoë hof vir  Mpumalanga. Die tender is aan ’n maatskappy toegestaan, maar die maatskappy het onmiddellik weer die grond aan ’n ander maatskappy vervreem. Die munisipaliteit moes gevolglik ’n ander stuk grond aankoop vir die oprigting van die nuwe hoë hof. AfriForum het toegang tot hierdie rekords versoek om ondersoek in te stel na die omstandighede waaronder die tender toegestaan is en om te ondersoek of die tersaaklike wetgewing nagekom is.

Die munisipaliteit het versuim om AfriForum in kennis te stel van sy besluit rakende die versoek om toegang tot die rekords. Die munisipaliteit word daarom geag die versoek geweier het en AfriForum is dus daarop geregtig om van die redes vir die weiering voorsien te word.

“Die doel van toegang tot rekords is om deursigtigheid en verantwoording aan die kant van publieke liggame te verseker,” het Martine Viljoen van Hurter Spies Ing. gesê. “Dit is hartseer dat die hof genader moet word om toegang tot rekords te verkry en te verseker dat publieke liggame aan die bepalings van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting voldoen.” Daar word nou op die uitvoering van die hofbevel gewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.