AfriForum veroordeel Kommandokorps-opleidingkampe

Die burgerregte organisasie, AfriForum, het die Kommandokorps se opleidingskampe veroordeel.

Die Mail & Guardian het Vrydag berig dat die kampe wat buite Carolina in Mpumalanga gehou word, ten doel het om wit tienerseuns te leer om swart mense te haat aangesien hulle die “vyand” is. Die kampleier, Franz Jooste (57), het glo aan hulle gesê hulle gaan regte mans word en dat swart mense minderwaardig is en nie daartoe in staat is om te regeer nie, het die koerant berig. Hy het glo ook gesê dat swart Suid-Afrikaners, behalwe vir inboorlinge in Australië, die “mees onderontwikkelde, barbaarse deel van die mensdom” is. “Wie is my vyand in Suid-Afrika? Wie moor, roof en verkrag? Wie is hierdie kreature? Die swartes,” het die Mail & Guardian hom aangehaal.

Die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, sê die behandeling wat die seuns ontvang is immoreel en onverskoonbaar. Kriel sê die oorgrote meerderheid van Afrikaners is matig en beskaafde mense wat trots is op hul eie kulturele identiteit, maar ook ander kulturele gemeenskappe respekteer. “Dit is jammer dat ‘n klein groep se optrede weer en weer gebruik kan word om alle Afrikaners in ‘n slegte lig uit te beeld,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.