AfriForum versoek landelikeveiligheidsplan van nasionale polisiekommissaris

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Riah Phiyega Foto: GCIS/SAPA

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag versoek dat die nasionale polisiekommissaris, generaal Riah Phiyega, ʼn plan van aksie vir landelike veiligheid op grondvlak toepas en dat sy dit aan die organisasie voorlê. Hierdie versoek volg ná die vlaag plaasaanvalle sedert die begin van 2014. AfriForum berig dat daar al meer as 27 insidente was sedert die begin van die jaar.

“Dit is tyd dat die SAPD se leierskap begin verantwoordelikheid neem vir die veiligheid van Suid-Afrikaners in landelike gebiede,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, gesê.

Volgens AfriForum is die polisie aandadig aan hierdie unieke misdaad omdat hulle niks doen om die krisis in landelike gebiede die hoof te bied nie. In Wallmansthal en Hammanskraal, in die noorde van Pretoria, is daar byvoorbeeld tot dusver nog steeds geen identikits opgestel nie. 3 weke ná ʼn hele reeks aanvalle het die polisie dus nog niks gedoen om enige inligting oor die aanvallers by slagoffers te kry nie.

“Generaal Phiyega moet verduidelik. By stasies soos Hammanskraal is beamptes en veral die uitvoerende beamptes onbevoeg en die gemeenskap is moeg gesukkel. Hulle leef in vrees,” het Cameron verduidelik.

AfriForum organiseer nou ʼn optog na die Hammannskraal-polisiestasie en wil ook ʼn optog na die kantoor van die nasionale kommissaris hou. AfriForum het ook begin om landswyd veiligheidsnetwerke te skep waarmee inwoners beveilig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.