AfriForum verwelkom voorstel oor handel in renosterhoring in Suid-Afrika

AfriForum verwelkom die aankondiging deur Edna Molewa, minister van omgewingsake, dat haar departement oorweeg om die internasionale gemeenskap te nader met ’n voorstel om in renosterhoring handel te wettig. AfriForum steun die beginsel dat handel in renosterhoring gewettig moet word om renosterstropery hok te slaan.

Volgens Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, kan die spesie in hierdie stadium slegs van uitwissing gered word deur die handel in renosterhoring te wettig. “Sedert die begin van die jaar is 200 renosters reeds deur stropers doodgemaak in Suid-Afrika. Suid-Afrika het ’n geraamde 20 ton-voorraadopgaring van renosterhoring. Ons moet die mark oorstroom,” sê Kleynhans.

“Die prys van renosterhoring word op meer as R500 000 per kilogram geraam. Indien ons die mark oorstroom, sal dit pryse afdwing en die risiko van renosterstropery verhoog. Befondsing vir die bekamping van renosterstropery sal ook toeneem,” volgens Kleynhans.

Suid-Afrika het ongeveer 20 700 renosters – 1 900 swart- en 18 800 witrenosters – wat 90% van die kontinent se renosters verteenwoordig. Getalle in die res van Afrika is vinnig aan die afneem.

AfriForum reken voorts dat renosters se natuurlike sterftesyfer ’n voldoende voorraad horing behoort te verseker om aan die mark se vraag te voldoen.

“Die verbod op handel in renosterhoring moet opgehef word om die voortbestaan van die spesie te verseker. Die finale besluit kan slegs by die 16de kongres van die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) geneem word. Die kongres word in Maart volgende jaar in Bangkok, Thailand gehou.”

Die voorstel sal beraadslaging met belangrike rolspelers, insluitend internasionale en streeksvennote, sowel as potensiële verbruikerslande behels.

“Minister Molewa het aangedui dat haar departement alle opsies, insluitend moontlikhede ten opsigte van die handel in renosterhoring, teen mekaar opweeg, maar nog nie ’n finale besluit geneem het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.