AfriForum vra inligting oor handboeke wat nie afgelewer word nie

AfriForum wil graag van skole hoor wat probleme ondervind met die aflewering van 2013 se handboeke.  Die aankondiging volg nadat dit bekend geword het dat handboeke nog nie teen gister by alle skole in Limpopo afgelewer was nie.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, onderneem dat 2012 se handboekkrisis nie in 2013 herhaal sal word nie.  AfriForum wil haar by haar woord wil hou.

“Die handboekkrisis het ʼn ingrypende invloed op skole in onder meer Limpopo gehad.  Leerders in verskillende grade het ure se noodsaaklike onderrig verloor.  Die ware invloed wat dit op die prestasie van leerders gehad het, sal eers gemeet kan word wanneer hulle almal hulle matriekjaar voltooi het – die 2012-matriekuitslae is dus geen rede tot valse gerustheid dat die tekort aan onderrig suksesvol oorbrug is nie,” het Bailey gesê.

Volgens Bailey het van die skole wat in 2012 nie betyds handboeke ontvang het nie, op eie koste inligting vir hulle leerders gekopieer.  Die departement het hulle nooit daarvoor vergoed nie.  Fondse wat dus geoormerk was om ander voordele aan leerders te bied, moes noodgedwonge so vermors word weens die departement se onbeholpenheid.

Om te voorkom dat soortgelyke insidente van dié aard in 2013 voorkom, wil AfriForum graag hoor van skole wat nog nie handboeke ontvang het nie.  Aan die hand hiervan sal AfriForum besluit of die aflewering van handboeke vanjaar inderdaad glad verloop, of steeds ʼn probleem is wat optrede teen die Onderwysdepartement vereis.  Inligting kan gestuur word aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.