AfriForum vra Openbare Beskermer om “Zumaville” te ondersoek

AfriForum het Maandag ‘n versoek aan die Openbare Beskermer gerig om die regering se besluit om ‘n nuwe dorp van R2-miljard ‘n klipgooi van die staatspresident se tuisdorp te bou, te ondersoek. Luidens onlangse mediaberigte beplan die departement van landelike ontwikkeling om die Umlalazi-Nkandla Smart Growth Centre slegs 3,2 kilometer van Nkandla in KwaZulu-Natal te bou. Hierdie projek word in samewerking met die landelike ontwikkelingsorganisasie, Masibambisane, uitgevoer. Zuma is die voorsitter van Masibambisane.

In sy skrywe aan die Openbare Beskermer sê Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dat die inligting wat tans tot die publiek se beskikking is daarop dui dat hierdie besluit op voorkeurbehandeling deur die staatspresident aan sy tuisdorp neerkom. Roets het verduidelik dat daar tot op hede geen aanduiding gegee is waarom besluit is om hierdie buitensporige projek spesifiek by Zuma se tuisdorp van stapel te stuur nie.

“Die staatspresident sit op drie stoele. Hy is die hoof van die uitvoerende gesag in die regering, voorsitter van die regering se vennoot in hierdie saak en as burger wat persoonlike belange in Nkandla het, is hy ook ʼn begunstigde in hierdie saak. Dit is besonder oneties, om die minste te sê.”

Roets het bygevoeg dat dienslewering, misdaadvoorkoming en onderwys regoor die land in ‘n krisis verkeer en dat hierdie projek by enige redelike Suid-Afrikaner die indruk kan skep dat die staatspresident besig is om sy eie belange bo dié van sy land te plaas.

Die weekblad, Mail & Guardian, het Vrydag berig dat R1-miljard vir hierdie projek uit die belastingbetaler se sak sal kom, terwyl ‘n verdere R1-miljard uit die privaatsektor ingesamel sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.