AfriForum vra polisiekommissaris se steun teen plaasmoorde

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Riah Phiyega, die nuwe nasionale polisiekommissaris, Maandag versoek om hul veldtog teen plaasmoorde te steun.

Hulle versoek veral dat plaasmoorde tot ’n prioriteitsmisdaad verklaar word en dat die polisie spesialiseenhede vir landelike veiligheid skep.

Volgens Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is Suid-Afrika grootliks van ’n florerende landbousektor afhanklik, maar dat die aanvalle op boere ’n ernstige gevaar inhou vir almal wat in landelike gebiede woon. “Ons het geen behoefte om die moorde op boere te verhef bo enige ander moorde nie. Die realiteit is egter dat moorde op boere nie net disproporsioneel tot die nasionale moordsyfer is nie, maar dat plaasmoorde met growwe en onmenslike brutaliteit gepaardgaan,” het Roets gesê.

AfriForum het reeds ’n brief oor die kwessie aan die minister van polisie, Nathi Mthethwa,  geskryf en beoog om binnekort weer met beide Mthethwa en Phiyega in verbinding te tree. AfriForum is besig om, met die hulp van verskeie kundiges, ’n omvattende verslag oor die omvang en impak van plaasaanvalle op te stel. Die verslag sal aan Mthethwa en Phiyega oorhandig word. Verder beoog AfriForum om sy veldtog teen plaasaanvalle in hierdie maand te verskerp deur ’n platform te skep waardeur die publiek betrokke kan raak om druk op die regering te plaas en bygestaan kan word om beter na hul eie veiligheid om te sien.

’n Eksemplaar van die Engelse weergawe van die boek Treurgrond is saam met die brief aan Phiyega oorhandig. Die boek bevat die besonderhede van 2 617 plaasaanvalle en 1 445 plaasmoorde wat oor ’n tydperk van 20 jaar in Suid-Afrika gepleeg is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.