AfriForum vra publiek om nie vir e-tol te registreer nie

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het in reaksie op die grondwethof se opheffing van die interdik teen die implementering van e-tol, ʼn beroep op motoriste gedoen om steeds nie vir e-tol te registreer nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, beteken die hofuitspraak nie die einde van die e-tol geveg nie. “Die geveg begin nou eers,” het Kriel gesê.

Kriel het daarop gewys dat vandag se hofuitspraak bloot oor die interdik gehandel het, en dat die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (Outa) se hoofaansoek nog aangehoor moet word. Volgens hom is daar uitstaande kennisgewings rakende tariewe en kwytskeldings wat nog in die staatskoerant gepubliseer moet word voor e-tol toegepas kan word, en is AfriForum gereed om enige onbillikhede soos straftariewe, wat in die kennisgewings vervat mag word, in die hof te beveg.

AfriForum het volgens Kriel besluit om nie voertuie wat vir die organisasie se werksaamhede gebruik word, vir e-tol te registreer nie. “Indien genoeg motoriste uit protes ook nie registreer nie, sal dit die SA Nasionale Padagentskap (Sanral) dwing om weer te besin oor die kostedoeltreffendheid van die e-tolstelsel as ’n verhalingsmeganisme,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.