AfriForum vra Sanral-raad om finaal af te sien van tolheffings

Die burgerregte-organisasie, AfriForum, het Woensdagoggend in Pretoria tydens ʼn voorlegging aan Sanral se raad, versoek dat Sanral en die regering finaal moet afsien van planne om tolgeld op Gautengse hoofweë te hef.

Volgens AfriForum is dit onhoudbaar dat sowat ʼn derde van koste van die Gautengse hoofweë, aangegaan word om toltariewe te kan verhaal. Die organisasie meen dat daar meer koste-effektiewe verhalingsmetodes soos brandstofheffings is wat die las op verbruikers aansienlik kan verlaag. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het sy organisasie Sanral ook daarop gewys dat die voorgestelde toltariewe die Mededingingswet, 1998, spesifiek artikel 8(a), sal oortree. “Geen dominante maatskappy mag sy dominante posisie misbruik om buitensporige tariewe te hef nie,” het Kriel gesê. Kriel het Sanral aangemoedig om die mededingingskommissie te nader om uitsluitsel hieroor te verkry, en aangedui dat AfriForum van voorneme is om die kommissie te nader, sou die regering besluit om die tolstelsel wel in te stel.

Kriel het gesê AfriForum besef dat uitgawes reeds vir die voorgestelde tolstelsel aangegaan is, maar dat die vermorsde uitgawes aansienlik meer sal word as daar net ter wille van uitgawes wat reeds aangegaan is met tolheffings voortgegaan word. “Wanneer ʼn motoris ʼn verkeerde afrit vat en na 20 km die fout besef, bly dit ʼn beter opsie om so gou as moontlik om te draai en die gemorsde kilometers te verwerk, as om aan te hou om in die verkeerde rigting te ry en nog gemorsde kilometers af te lê. Net so is dit nou tyd vir Sanral om ‘om te draai’ en so spoedig moontlik af te sien van die voorgestelde tolstelsel,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.