AfriForum vra Valke-ondersoek na Malema

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die Valke versoek om ondersoek in te stel na die bewering dat die ANC-jeugligaleier, Julius Malema, geld ontvang het van ʼn sakeman in ruil vir regeringstenders.

Sondagkoerante het berig dat Steve Bosch twee betalings ter waarde van R1,2 miljoen gemaak het aan die argitek wat Malema se peperduur huis in Sandton bou. Bosch se maatskappy het glo daarin geslaag om miljoene rande se tenders te bekom. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, dien sy organisasie se versoek aan die Valke om Bosch se skenkings te ondersoek, ter aanvulling van AfriForum se aanvanklike klag van korrupsie teen Malema, wat tans deur die Valke ondersoek word. AfriForum het aanvanklik die klag teen Malema gelê ná ʼn verslag deur City Press en Rapport dat Malema die Ratanang-familietrust na bewering as ʼn middel gebruik om betaling van besigheidspersone te ontvang, in ruil vir sy hulp aan hulle om regeringstenders te bekom. Daar word onder meer ook beweer dat die besigheidsman Matome Hlamboa, wat sowat R200 miljoen se regeringstenders in Limpopo bekom het, ʼn voertuig ter waarde van R1,2 miljoen aan Malema beskikbaar stel en ander gunste aan Malema betoon. Kriel het daarop gewys dat AfriForum vasberade is om toe te sien dat politici wat hulle kontakte misbruik om hulleself ten koste van arm mense te verryk, tot verantwoording geroep sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.