AfriForum weer hof toe oor Zim-helikopters

Alouette III

Die burgerregte-organisasie AfriForum is Dinsdag weer in die hooggeregshof in Pretoria oor die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) se voorgenome lewering van helikopters aan die Zimbabwiese Lugmag.

Dit het op 25 Januarie vanjaar aan die lig gekom dat die SANW besluit het om al sy oortollige Alouette III-helikopters aan die Zimbabwiese Lugmag te skenk. Die helikopters het oortollig geraak met die ingebruikneming van Italiaans vervaardigde helikopters wat as deel van die veelbesproke wapentransaksie deur die SANW aangekoop is.

Alouette III-helikopters is in die Bosoorlog deur die Suid-Afrikaanse Lugmag in hakkejagoperasies gebruik en het in die omgangstaal as “gunships” bekendgestaan omdat die helikopters toegerus is met 20 mm-kanonne wat vir lug-tot-grondaanvalle gebruik is.

Die helikopters is ook deur die destydse Rhodesiese Weermag tydens die Rhodesiese Bosoorlog teen Zanla- en Zipra-magte gebruik. Sedert onafhanklikheidswording het die Zimbabwiese Weermag eweneens die helikopters in gevegsituasies gebruik.

Volgens berigte het die Zimbabwiese Weermag onlangs nog Alouette-helikopters tydens optrede in die Demokratiese Republiek van die Kongo gebruik.

Opposisielede is bekommerd dat die skenking van Alouette-helikopters aan die Zimbabwiese regering ‘n boodskap stuur dat die Suid-Afrikaanse regering die Zimbabwe Weermag se gebruik van geweld kondoneer om president Robert Mugabe aan bewind te hou en dat Suid-Afrika op dié manier selfs medepligtig raak aan die menseregtevergrype in Zimbabwe.

AfriForum het daarom op 25 Januarie 2013 ‘n voorlopige tussentydse interdik teen die lewering van die helikopters aan Zimbabwe verkry. Die keerdatum van die interdik is Dinsdag wanneer die SANW redes moet aanvoer waarom die voorlopige tussentydse interdik nie bekragtig kan word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.