AfriForum wil hê Petros moet optree in Hammanskraal

Luitenant-generaal Mzwandile Petros. Foto: www.you.co.za

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag op die aanstelling van 14 nuwe stasiebevelvoerders in Gauteng gereageer. Luitenant-generaal Mzwandile Petros het Vrydag aangekondig dat hy 14 nuwe stasiebevelvoerders by “problematiese” stasies aangestel het. Tog, ten spyte van herhaalde klagtes van die gemeenskap by topbestuur, het die polisiestasie by Hammanskraal steeds nie ʼn bevelvoerder nie.

Hammanskraal se polisiestasie in die noorde van Pretoria gaan die afgelope maande gebuk onder swak bestuur, korrupsie en swak dienslewering. Die vorige bevelvoerder, Lt.Kol. Shirindi is verwyder na bewerings van wanbestuur, en sy plaasvervanger, Lt.Kol. Le Roux is ná ʼn paar maande sonder enige verduideliking verwyder. Tans neem ʼn kaptein as bevelvoerder waar.

Die voorsitter van die Hammanskraal Gemeenskapspolisiëringsforum, Johan Lucas, sê dat polisiebestuur nie die gemeenskap se kommer in ʼn ernstige lig beskou nie. “Verlede week het die Gautengse departement van veiligheid en sekuriteit vergaderings in Hammanskraal met bepaalde groepe gehou en belangrike kwessies soos die verandering van Hammanskraal se polisiëringsgebied bespreek, sonder om die GPF in kennis te stel of te betrek. Shirindi is verwyder sonder dat die wanbestuur ondersoek is, en sy plaasvervanger was ʼn tydelike maatreël net om ons stil te kry.”

“AfriForum spook al sedert September verlede jaar om die gemeenskap se klagtes oor die Hammanskraal-polisie se swak diens te help oplos,” sê Reg Crewe, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid. “Ons belê vergaderings met die polisie se bestuur, maar met geen sukses nie. In die week waarin AfriForum beplan het om ʼn protesoptog na Hammanskraal se polisiestasie te hou, het ʼn nuwe bevelvoerder oornag te voorskyn gekom. Net ná ons die optog afgestel het, het hy weer van die toneel verdwyn. Daar is beslis mense met verskuilde agendas wat polisiëring in Hammanskraal beheer en manipuleer. Generaal Petros moet intree en die gemors persoonlik oplos.”

Lede van die gemeenskap wat AfriForum wil help om die probleme in Hammanskraal op te los, kan die woord “Hammanskraal” na 31488 SMS (SMS kos 50c).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.