AfriForum wil Sanral hof toe vat oor “straftariewe”

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag sy regspan opdrag gegee om voorbereidings te tref om die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) se “straftariewe” in ʼn hof te betwis.

AfriForum sê in ʼn verklaring dat hy Sanral se besluit om ʼn tarief van R 1,75 per kilometer te hef vir diegene wat nie vir e-tol registreer nie, op ʼn dringende basis in die hooggeregshof sal beveg. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, misbruik Sanral “straftariewe” om Sanral en die e-tolstelsel se dominante en nie-kompeterende posisie op ʼn onregmatige wyse te verskans. Kriel het daarop gewys dat die Mededingingswet, (Wet 89 van 1998) in artikel 8(a) uitdruklik bepaal dat geen dominante maatskappy sy posisie van oorheersing mag misbruik om buitensporige tariewe te hef nie.

AfriForum het by monde van Kriel ʼn beroep op motoriste gedoen om nie voor Sanral se intimidasie-strategie te swig nie. “Die publiek word versoek om te wag vir die uitslag van AfriForum en ander groeperings se voorgenome regsaksies, voordat hulle besluit of hulle vir e-tol gaan registreer of nie,” het Kriel gesê. Kriel het daarop gewys dat AfriForum besluit het om nie voertuie wat vir die organisasie se werksaamhede gebruik word, vir e-tol te registreer nie. “Indien genoeg motoriste uit protes ook nie registreer nie, sal dit Sanral dwing om weer te besin oor die e-tolstelsel, as nie-koste effektiewe verhalingsmeganisme,” het Kriel bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.