AfriForum: Zuma-spotprent in swak smaak

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die spotprent wat die afgelope naweek in ʼn gewilde Suid-Afrikaanse weekblad gepubliseer is, waarin president Jacob Zuma op ʼn vulgêre wyse uitgebeeld word, as onproduktief en in swak smaak bestempel.

“Alhoewel AfriForum ʼn groot voorstaander van vryheid van spraak en van die bevordering van ʼn vrye pers en vryheid van artistieke uitdrukking is, is hierdie ook ʼn kwessie van menswaardigheid,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. AfriForum is van mening dat geskilpunte in Suid-Afrika konstruktief benader moet word en dat dit nie tot ʼn oplossing bydra wanneer ander mense se kultuur in die proses beledig word nie. Roets het bygevoeg dat die spotprentkunstenaar, Zapiro, genoeg rede het om geldige kritiek op die regering en selfs die president te lewer, maar ʼn aanbeveling gemaak dat kunstenaars die invloed en moontlike gevolge van hulle kunswerke moet evalueer voordat hulle dit aan die publiek bekendstel.

Die ANC het die spotprent in die Mail&Guardian as aanstootlik, vernederend en beledigend teenoor president Zuma veroordeel. Die spotprent beeld Zuma as ‘n manlike geslagsdeel uit, met ‘n stortkop bo-op, wat voor ’n spieël in die Goodman Galery staan. Daar is ’n meegaande limeriek. Die naam van die kunstenaar wat die oorspronklike bohaai oor The Spear veroorsaak het, Brett Murray, verskyn in een hoekie van die prent. Jackson Mthembu, ’n woordvoerder van die ANC, het Jonathan Shapiro en die weekblad versoek om Zuma om verskoning te vra. Hy sê die party sal nie rus voordat die media en kunstenaars ten volle verstaan dat die sogenaamde joernalistieke kreatiwiteit skade aan die eenheid in die land berokken nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.